FreeStyle

Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

    ’n tyd vir hekse en baie bloed

    Torm
    Torm


    Location | Ligging : Donker Afrika
    Posts | Bydraes : 260
    Points | Punte : 465
    Join date | Datum aangesluit : 2011-09-16
    Age | Ouderdom : 67

    ’n tyd vir hekse en baie bloed Empty ’n tyd vir hekse en baie bloed

    Post by Torm Wed 09 Nov 2011, 8:35 am


    Aangesien die skade aan die Suidelike grenstoring nog nie behoorlik herstel is nie, onttrek Kaptein Barac al die troepe na Ametus toe, waar hy hom op die aanval voorberei. Berigte van ʼn groot inval vanuit die Suide kom gou daar aan. Daarna begin die berigte egter ʼn ander kleur kry, ʼn kleur wat hy nie glo nie.
    “Daar is nie so iets soos hekse en toordery nie, dis alles oëverblindery. Die moegoes is ook nie tower-wesens nie, hulle is net barbare met vreeslike oorlogverf op hulle gesigte,” verseker hy sy manskappe soos wat Krog hom op sy beurt verseker het.
    Toe Ametus omsingel word, is hulle egter nie voorbereid op dit wat hulle sien en waarteen hulle vir hulle lewens moet veg nie.
    Terwyl Ametus omsingel word, marsjeer ʼn ander aanvalsmag daar verby na Kasteeldorp. Die identiteit van die aanvallers word geheim gehou totdat ʼn leër van ongeveer drieduisend swaar gewapende man van die kasteel af sigbaar word. Sorm het alle oeste sover moontlik laat inbring, voorrade verskuif en die mense laat vlug, óf binne die kasteelmure óf na Edburg.
    ʼn Boodskapper van die aanvallers bring ʼn brief, deur die Biskop en die Rooi Prins onderteken, waarin hulle daarop aandring dat Sorm oorgelewer word om verhoor te word vir kettery. Sy sonde is dat hy verkondig dat daar nie iets soos heksery is nie, terwyl die Heilige Kerk immers mense daarvoor op brandstapels laat verbrand. Krijger gooi die boodskapper in die tronk en soek rond vir ʼn gepaste antwoord om terug te stuur.
    Juis toe begin aanvallers uit pure vernielsugtigheid huise in die verlate Kasteeldorp aan die brand steek waar hulle dink die kasteel se wapens nie kan bykom nie. Hulle misgis hulle egter met die reikafstand van die nuwe katapults. Krijger plak die brief aan ʼn ronde klip vas en stuur dit terug, reg bo-op die brandstigters!
    Daarna trek die aanvallers verder terug en dit lyk asof hulle vir iets wag. Hulle is egter rusteloos en maal rond asof die leiers nie heeltemal beheer het nie. Sorm ontvang per posduif berig dat die versterkte Noordelike grens-toring op die rand van die Sneeuberge, net-net ʼn aanval deur moegoes afgeweer het. Dit is nie duidelik of die Prins en die Biskop vir dié aanvallers wag of dalk vir iets anders nie.
    Sorm besef egter dat die tyd uitloop om Ametus te gaan help en dat die boere en dorpenaars ál groter skade ly hoe langer hierdie wagtery aangaan. Hy sien in elke geval kans vir ʼn leër van net drieduisend. Hy ontvang ʼn teken van spieëls wat sonlig in die heuwels aan Edburg se kant weerkaats – die meeste van die honderd perderuiters het teruggekeer en wag daar. Sorm stuur ʼn honderd langboogskutters uit die kasteel tot waar hulle die aanvallers met hulle moderne pyle kan bykom. Toe stuur Sorm sy ruitery uit, swaar gepantser, om die linkerflank van die aanvallers aan te val, maar met die opdrag om maklik mee te gee en terug te vlug.
    Die dissipline van die aanvallers, wat maar meesal daar is vir beloftes oor die ryk buit wat op hulle wag, stort in duie en hulle storm die kasteel. Sorm se ruitery hou hulle vir ʼn oomblik terug maar vlug toe terug na die kasteel. Intussen word die aanvallers gepeper met katapults en deur die langboogskutters wat vuur en terugtree, vuur en terugtree, totdat hulle weer veilig terug in die kasteel is. Intussen maai die skutters die vyand af wat binne bereik van die kasteelmure kom. Die aanvallers gehoorsaam stuk-stuk hul bevelvoerders se opdrag om terug te val, wat beteken dat die groep naaste aan die kasteel swak is. Sorm stuur die driehonderd elite swaardvegters uit om hulle van kant te maak. Daarna herhaal hy die taktiek oor en oor, telkens met dieselfde gevolg.
    Teen die aand van die eerste dag van die aanval, toe die Prins en die Biskop uiteindelik weer hulle soldate onder beheer kry, is vyfhonderd van hulle swaar gewond of gedood. Hulle slaan kamp op vir die nag, vas onder die indruk dat die nag tot voordeel van die aanvallers is. Hulle is van plan om na aandete met klein aanvalle te begin om die kasteel te verswak, en om verder huise en plase af te brand.
    In die middel van die nag bars ʼn verskriklike pandemonium los! Sorm se katapults is nou met brandende missiele van klip en lap, deurweek met brandende pik, gelaai. Hulle mik vir ʼn kring op die maksimum afstand om die kasteel. Hulle kan dit net-net bykom met ʼn perfekte skoot. Vier skote later tref die eerste ene die teiken: Pik, wat voor die aanval daar in ʼn sloot rondom die kasteel versteek is, slaan aan die brand.

    GEEL! ORANJE! ROOI! Die donkerte van die nag ontplof in ʼn vlamme-hel! Die reuk van brandende pik is verstikkend, en deur die rook kan Sorm-hulle die aanvallers nou goed sien.
    Te laat sien Krijger in die nuwe lig dat ʼn span saboteurs in die donker tot by die agterste muur gekom het! Hulle het ʼn geheime nuwe wapen van Sjina af gekry, ʼn stof wat met ʼn geweldige slag ontplof.
    KADWAM! Die agterste kasteelmuur skud op die presiese plek waar dit die swakste is! Daar is ʼn geskreeu in die kasteel én daar is ʼn geskreeu buite waar die pik-vlamme nou binne-in die aanvallers se kamp opskiet.
    Sorm weet dat daar min tyd oor is om seker te maak dat hy die beste uit hierdie chaos uit kom. Hy stuur ʼn linie boogskutters, beskerm deur ʼn linie swaardvegters, by die kasteelhek uit tot binne bereik van die aanvallers. Die aanvallers word in die lig van die vlamme met pyle en katapult-skote gepeper. Toe sommige aanvallers verward begin vlug, stuur Sorm sy ruitery uit om hulle af te maai. Op daardie oomblik tref die ruitery van Edburg boonop die verwarde aanvallers van agter af.
    Dit is te veel vir hulle, en die hele leër spat uit mekaar. Die swaardvegters onder aanvoering van Krijger keer ʼn deel van hulle teen die rivier vas en maai hulle af totdat ʼn verskrikte ou man in ʼn pers kleed tussen hulle uithardloop met ʼn wit vlag en skreeu:
    “Ons gee oor! Ons gee oor!”
    Sorm se gedissiplineerde leër weerstaan die versoeking om onbeskaafd op te tree en neem die Biskop en sy manne gevangene.
    Die res van die aanvallers word teen dagbreek oor die vlakte deur die ruitery gejaag, totdat Sorm die trompetblasers opdrag gee om die “Keer terug na basis!” sein te blaas. Met groot teleurstelling kom die leiers ʼn ruk later by Sorm byeen.
    “Ons kon hulle die finale nekslag toedien en dalk die Rooi Prins vang, my heer, “ sê een van hulle.
    “Ek wil nie nog manne in die swak lig verloor nie. Wel gedaan! Eet, rus en knap julle toerusting op. Maak gereed, want na ontbyt wil ek met die hele leër opruk na Ametus,” antwoord die koning moeg, draai om en haas hom na sy kamer. Krijger draf agterna.
    Buite die deur van sy kamer stop Sorm en draai om na sy ‘skaduwee’.
    “Krijger, jy moet rus sodat jy kan saamgaan. Los vir Noël in beheer van ʼn klein kasteelwag met die opdrag om na Edburg terug te val indien dit nodig is.”
    “Sorm, is dit wys om die veiligheid van die kasteel te verlaat en die kans te vat dat die kasteel oorval word, en dit net ter wille van Ametus?” vra Krijger bekommerd.
    Sorm plaas sy hand op Krijger se groot ou skouer en vra:
    “Weet jy hoeveel ʼn paar honderdduisend is?”
    Krijger kyk net verstom na sy vriend en koning.
    “Daar is ʼn goeie rede vir wat ek doen, Krijger. Daar is groot fout êrens, en ek moet in Chalcedonum kom. Jy moet sodra ons more buite sig van Kasteeldorp is, iemand terugstuur om die volle bevolking op te roep en te bewapen, om my te volg. Wagte moet uitgeplaas word om met die eerste teken van moeilikheid, die oorblywende mense na veiligheid te laat vlug. Die gevangenes moet gebruik word om die slagveld op te ruim en dan Noordwaarts geneem word om ʼn grag om die naaste grens-toring te grawe. O, en laat die argitek dadelik kyk hoeveel skade aan die agterste muur aangerig is. Ek het nou ʼn bietjie stilte nodig,” sê Sorm, gaan in sy spesiale kamer in en maak die deur toe. Hy hoor hoe Krijger stadig wegstap.
    Sorm gaan kniel voor die tafel en maak weer die brief wat hy in sy hand toeklem, oop. Dit kom van ʼn betroubare spioen af en bevestig vroeëre berigte. Hy lees dit weer en dan nóg ʼn keer.
    Dit kan nie waar wees nie! Hy kyk op na die kruis teen die muur en prewel:
    “Iets groots is verkeerd, die werklikheid word geaffekteer deur dit wat onwerklik is, iets wat nie in my wêreld hoort nie.”
    Hy lees in die Boek op die tafel totdat hy van uitputting op die mat aan die slaap raak. Daar kry Noël en ʼn helper hom ʼn uur later en help hom om vir die haastige uittog na Ametus gereed te maak.
    *****
    Storm droom weer sy pa skryf hom saam met sestienjariges by ʼn skool in maar hy is nog net twaalf jaar oud. Hy probeer almal vertel dat dit is nie reg nie, maar niemand hoor hom nie. Sy eie stem klink asof hy in ʼn buis praat. Skielik besef hy dat dit nag is by die skool, en dat hy plotseling alleen tussen groot donker skoolgeboue is. Hy storm na buite, kyk op en skrik hom yskoud. Iets is gruwelik verkeerd, want daar bo langs die maan is... nog ʼn maan. Vervaard skrik hy wakker, vat aan die hanger om sy nek en neem ʼn sluk water. Hy mors. Die water drup op sy borskas, waar uiteindelik ʼn paar spiere begin wys na al die weke se werk in die gym wat hy vir Meneer Lentsela skoonmaak. Dit is koud en hy trek komberse oor hom. Gelukkig raak hy van die warmte weer aan die slaap...
    *****
    Die agterste muur van die kasteel is toe wesenlik beskadig, en dit sal baie werk kos om dit weer sterk genoeg te maak. Iemand het baie goed geweet presies waar die muur se swakplek is. Halfpad deur die volgende oggend is Sorm se aanvalsmag voor die kasteel opgestel. Hulle lyk voorwaar indrukwekkend, netjies en goed versorg met blink wapens in gelid: Tweehonderd swaar toegeruste perderuiters, driehonderd elite swaardvegters, driehonderd en tagtig langboogskutters, twee van die katapults en al hul helpers met waens.
    Die koningsblou en groen vaandels wapper triomfantlik in die lug. Sorm kyk trots na hulle bo van die houtbrug af, en klim toe met ʼn sug met die trappe af na onder. Daar wag Die Sekretaris, Krijger, Noël en ʼn piekenier vir hom.
    “Noël,” sê Sorm, “jy is in beheer van die kasteel. Arresteer hierdie man op aanklag van sameswering en hou hom in die kasteeltronk totdat die regter van Edburg af kom om hom te oordeel.”
    Noël en die piekenier lei ʼn geskokte Sekretaris binne die kasteel in. Behalwe vir Noël en Poilock, wat by die koninklike familie in Edburg is, gaan al die ander spesiale vegters saam met Sorm.
    Toe die jong koning te perd by die kasteelhek uitry, bars ʼn oorverdowende gejuig los. Die soldate loop oor van entoesiasme. Na al die maande wat die vredeliewende Sorm Iannus nie gehoor wou gee aan versoeke om tot aksie oor te gaan nie, het hy nou ʼn verstommende triomf behaal. Met onbenullige verliese aan Sorm se kant is die Rooi Prins en die Biskop se leër heeltemal verslaan en uitmekaar gejaag. Volgens gerugte het Baron Duncan, wat ʼn entjie weg gewag het om die verswakte wenner van die veldslag aan te val, op die vlug geslaan toe hy sien wat gebeur. En om alles te kroon, ruk hulle nou met ongekende aggressie op na Ametus.
    “Ja, selfs na Chalcedonum,” fluister sommiges.
    Die verwagte versterkings vir die moegoes rondom Ametus het nog nie opgedaag nie, toe gerugte van Sorm se opmars daar uitkom. Die beleëring word inderhaas gestaak en die aanvallers vlug holderstebolder na Chalcedonum toe. Die mense van Ametus verwelkom Sorm se uitgeputte maar opgewonde soldate met ʼn groot gejuig. Maar Kaptein Barac haas Sorm tegemoet en neem hom na die tronksel in die middel van sy kamp.
    “My heer, kyk asseblief mooi na hierdie...ding,” vra hy.
    Sorm kyk geskok na wat presies ʼn moegoe nou regtig is. Die haatdraende rooi oë, die donkergroen vel met skubbe op die rug, die harige ... pote. Dit is nie ’n barbaarse mens nie! Dit is ʼn vreemde bose wese wat nie in hierdie wêreld, op hierdie planeet, hoort nie. Sy ergste vermoede word bevestig. Iets verskrikliks het skeef geloop, en op een of ander vreemde manier weet hy dat hy die enigste een is wat iets daaraan kan doen!
    “Jy weet dat daar nie so iets kan wees nie, Kaptein. Dié gerug moet so stadig as moontlik versprei. Ek sal my leër buitekant die dorp laat kamp. Ons gaan vanaand rus en eet en môre vroeg vertrek ons. Wanneer die versterkings hier aankom, moet jy by hulle aansluit en opdrag gee dat almal onverwyld en vinnig na Chalcedonum moet voortgaan. Ons gaan stadig na Chalcedonum opruk sodat julle ons kan probeer inhaal.”
    “Ja, my heer.”
    Drie dae later berig die voorste verkenner dat die tweeling torings en ander verdedigingstorings van die heilige stad Chalcedonum binne sig is. Die versterkings is ʼn halwe dag agter Sorm.
    *****
    Vir die eerste keer droom Storm dat hy krieket speel op ʼn groen veld met geel madeliefies. Hy boul na ʼn kolwer wat ʼn Middeleeuse wapenrusting aan het, maar steeds vir hom bang is. Hy voel die wind deur sy hare streel terwyl hy aanloop neem, met die rooi bal in sy linkerhand met die soom tussen sy wysvinger en middelvinger vasgevat. Skielik is hy in die saal van ʼn perd en die wind suis heerlik teen sy gesig en deur sy hare. Hulle jaag hopeloos te vinnig, te vinnig vir ʼn gewone perd, en hy val af en rol teen ʼn groen berghang af, rol, rol, rol tot onder maar dan is hy onverwags in ʼn grot. Hy staan op en dit is donker met net ʼn vae blou lig wat skyn op ʼn rots voor hom. Hy stap nader, aangetrek deur die rots asof hy weet hy moet soontoe gaan. Daar is ʼn skeur in die rots en steek sy hand daarin, al weet hy ʼn mens doen nie sulke goed nie. Hy word rustig wakker, wonder wat die droom tog beteken en skryf dit vir Krog neer sodat hy hom daarin kan verdiep. Om te dink Krog word vir sulke strooi betaal...
    *****
    Koning Sorm Iannus, agter-agter kleinseun van Uther die Grote van Chalcedonum, se volle leër neem om hom stelling in. Kaptein Barac en die versterkings het by hulle aangesluit en hulle is ʼn formidabele mag.
    Maar tussen hulle en die heilige stad, waar die moegoes rondmaal en snaakse skreeugeluide opgaan, staan ʼn toring en grag wat die enigste brug oor die rivier bewaak. ʼn Hele dag lank het Kaptein Barac dit met katapults en boogskutters bestook sonder sukses. Elke poging om dit te bestorm het bloedige gevolge. Oornag het ʼn aanvalstoring wat die moegoes by Ametus agtergelaat het, daar aangekom soos deur Sorm versoek. Nou word dit na die verdedigingstoring gesleep.
    “Maar ons sleep dit agterstevoor,” fluister een soldaat vir ʼn ander.
    “Ná Kasteeldorp bevraagteken ek nie die koning nie. Hy weet wat hy doen,” kom die antwoord van sy maat langs hom.
    Die aanvalstoring van hout, met sy oop kant na voor, steek voor die grag teen ʼn ronde klip wat tot daar geskiet is, vas en val om. Dit val op die hek van die verdedigingstoring, breek dit oop en vorm ʼn brug tot binne die klipmure. Die ruitery jaag daaroor, kruisboë gespan, tussen die verskrikte soldate, meestal Rooi Prins volgelinge, in. Die swaardvegters volg kort agter hulle. Die veldslag is baie gou oor en die koning se vaandel word opgehys. Die heilige stad lê oop voor hulle.
    Dit is al middagete maar die koning wil nie rus nie. Hulle eet almal terwyl hulle werk om ʼn slagorde op te stel. Die katapults en ander klipgooiers wat buitgemaak is, bestook die stad. “Pasop vir die tweeling-torings en die katedraal,” was die opdrag.
    Skielik peul ʼn donker horde, ʼn hele paar duisend moegoes, by die stadspoorte uit.
    “IIEEEE!”
    ʼn Angswekkende skril geskreeu ruis agter die moegoes in die stad op. Die soldate skrik, maar bly in formasie staan. Op die regte oomblik blaas die trompet en Sorm se boogskutters stuur ʼn wolk van pyle op die vyand af.
    En nóg een. En nóg een.
    Dit is asof ʼn fontein van bloed op die veldslag opspring en in strome oor die natgereënde grond loop. Sorm maak sy oë toe. Dit is nie hoe dit moes wees nie, dit is ʼn gruwelike verwringing van die werklikheid. ʼn Soldaat gil, en hy maak weer sy oë oop. Die bloed is nie rooi nie, dit is magenta, amper helder, asof die lig daarop skyn.
    Die volgende oomblik is die moegoes op hulle. Die swaardvegters en versterkings tree vorentoe om die boogskutters te beskerm, en dit gee ʼn bloedige geveg af. Die middel van Sorm se linie kry swaar en word uitgedun. Sorm gee die teken vir die trompetblaser en hy blaas die sein: Die middel van die linie breek, val terug en laat die moegoes deurstorm, maar die linie sluit weer agter hulle.
    Die boogskutters het gestaan en wag en skiet weer hul dodelike pyle af. Toe buk hulle en die ruitery spring bo-oor en jaag topspoed in die omsingelde moegoes vas. Die grootste groep moegoes het in hierdie lokval ingestorm en word nou teen mekaar vasgedruk. Hulle probeer vlug. Toe hulle dit sien, begin die twee moegoe-flanke ook vlug. Die swaardvegters konsentreer op die middelste groep terwyl die boogskutters en perderuiters nou die flanke, wat in Chalcedonum probeer invlug, aanval.
    Sorm kyk met hartseer oë hoe die oorwinning voor hom oopvou. Teen hierdie tyd het die halfmiljoen moegoes wat deur sy spioene dopgehou is, reeds deur die Noordelike grens-torings gebreek en waarskynlik reeds Kasteeldorp en die kasteel oorval. Oor ʼn dag of twee sal hulle sy familie in Edburg bedreig. Hy vermoed dat ʼn soortgelyke wanbalans tussen mens en moegoe oral die geval is, dat hulle oor die Alpe en die Andes, oor die vlaktes van Sjina en deur die bosse van Afrika krioel en die hele planeet bedreig. Asof in ʼn droom beweeg hy voort na sy doelwit, onbewus van sy uitputting en van die besering aan sy arm waar ʼn spies hom skrams getref het.
    Sorm ry tussen sy soldate die stad binne, met Krijger langs hom en Smith en Mark kort agter. Hulle moet deur een van die tweeling-torings ry om by die binneplaas van die katedraal uit te kom.
    In die toring steier die krygers onder die skrik van dit wat hulle sien: Drie hekse met swart punthoede en verwronge gesigte swiep op besems onder die hoë plafon uit. Hulle maak skril skreeugeluide en gooi verstikkende rookwalms, wat uit hulle swart jasse verskyn, na Sorm-hulle. Die mure is beverf met die droë rooibruin bloed van dapper soldate wat destyds die heilige stad probeer verdedig het. Op die vloer is klipstapels met die as van die katedraal van langsaan se simbole en die koning se vaandels. Gruwelike offerandes is hier gemaak.
    Krijger gril.
    Maar Sorm bly op sy verskrikte perd se rug en storm te perd teen die trappe op na die dak van die grondvlak van die toring. Die ander volg hom. Bo vind hulle toue waaraan die hekse se besems vas is, en katrolle waarmee hulle swaai. Sorm begin hulle afkap. Krijger help hom, en die hekse val skreeuend op die klipvloer. Hulle vlug voor die soldate. Die enigste ‘towerkrag’ waaroor hulle beskik, is dat hulle met beide mens en moegoe kan praat. Hulle was die tussengangers tussen die moegoes en die vyande van die koning.
    Sorm jaag met die trappe af en uit na die binneplaas van die katedraal. Daar spring van sy perd af. Hy kan sien dat die katedraal se pragtige volkleur loodglasvensters oral beskadig is en dat en die goue kruise onderstebo hang. Dit alles maak nie nou saak nie. Daar is dit nou voor hom: Die legendariese gloeiende rots van Uther! Hy beduie vir sy lyfwagte om wag te staan en om hom teen inmenging te beskerm.
    “As iets so belangrik is dat dit gedoen moet word, dan moet dit met oorgawe en totale toewyding gedoen word,” onthou Sorm hoe Krog hom geleer het.
    Hy stap stadig en rustig na die rots toe. Hy onthou die appelboorde van Edburg. Daar het hy sy liefde vir die soet, geurige klein appels aangeleer. Hy sien die onstuimige see voor hom in sy verbeelding, en voel die sproei van die donker turkoois branders in sy gesig. Hy voel die sagte weerlose hande van sy vergiftigde ma toe hy haar gegroet het.
    Teen die tyd dat sy pa voorsorg begin tref het, het hulle albei reeds groot hoeveelhede van die gif, wat in klein dosisse in hul kos was, ingeneem. Die ou koning het sy wonde en gif vir maande beveg, en die dapper ou koningin veg nog steeds. Hy dink vir ʼn oomblik aan die pragtige Elisabeth. En dan hoor hy selfs vir oulaas in sy verbeelding die pragtige suiwer note van die kloosterklokke wat klingel in die oggendmis in Edburg...

    Met stadige, vloeiende bewegings steek Sorm sy linkerhand, wat hy eers in die oliebak in die katedraal gesteek het, nou uit na die skeur bo-in die rots. Op die rots is daar ʼn koperplaat met dié oënskynlik betekenislose woorde daarop ingegraveer:
    “pergamemnon maneo chalcedonum directus”
    Sorm fokus sy gedagtes op ʼn plek en tyd waar almal veronderstel is om ʼn gelyke kans te hê om ʼn goeie lewe te maak. Hy probeer in sy verbeelding ʼn mooi land sien, gevul met natuurskoon en met groot potensiaal. Die koningsblou word vir hom die vryheid van skoon blou lug, en in sy verbeelding word die koninklike groen die gras en bome van ʼn lowerryke landskap. Is so iets enigsins moontlik? Sal die mensdom ooit gelykheid en skoonheid duld? Hy konsentreer baie hard daarop. Met sy ander hand voel hy aan die chalcedoon hanger om sy nek. Hy probeer niks verstaan nie, hy glo net in dit waarop hy ten beste hoop, terwyl sy linkerhand in die rotsskeur in gly. Binne-in die rotsskeur is dit skielik sag en klam en effens slymerig, maar dan sien hy dit: Die kleure is oorweldigend, dit vloei wild heen en weer oor die bekende kleurespektrum.
    ROOI! KONINGSBLOU! MAGENTA!
    Onverstaanbare en onnoembare kleure bars om hom oop; dit word ʼn draaikolk wat die katedraal, die stad, die berge rondom, die hele beskadigde wêreld insuig in ʼn eindelose dog oombliklike uitbarsting van onkeerbare energie. Daar is geen onderbreking, geen steurnis, dit is alles net lieflike pragtige lig, ʼn lig wat hom moet lei na ʼn plek en tyd waar almal ʼn kans gegun word. Tyd breek soos ʼn brander oor die rots van Uther en spat op teen die tweeling torings en die katedraal van die heilige stad.
    En anderkant die lig was dit weer donker, en toe breek daar ʼn splinternuwe dag...

      Current date/time is Thu 28 Mar 2024, 6:26 pm