FreeStyle

Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

    Vier maande en meer sedert...

    AmmieMoon
    AmmieMoon


    Location | Ligging : Saldanhabaai
    Posts | Bydraes : 413
    Points | Punte : 689
    Join date | Datum aangesluit : 2011-08-28
    Age | Ouderdom : 25

    Vier maande en meer sedert... Empty Vier maande en meer sedert...

    Post by AmmieMoon Sat 03 Sep 2011, 3:07 pm

    dit is presies vier maande twee weke en elf uur sedert..


    die maan was vir 'n wyle klinies dood en die sterre
    het grys mosdoppies gedra,
    dit was windstil en nag het skeef geluier teen tyd -
    in die aandlug was daar 'n besliste andersheid

    sout het laf gekleef teen my en die nonnetjieuil
    se hoe-hoe was feller as tevore -
    selfs my hede was opeens verlore (gemeet
    aan daardie dooie uur)

    met moue opgerol, het my hande bewegingloos
    in die skottelgoedwater gehang -
    deur die kombuisvenster kon ek die knoestige
    vyeboom se skurf sien roer
    asof skerpsiende oë daardeur loer loer loer


    dit is presies vier maande twee weke en elf uur sedert..


    daar was stemme, baie stemme maar bowenal
    kon ek kleine kindertjies hoor lag lag lag -
    nag was tog al oud en Klaas Vakie het
    lankal reeds na 'n ander kontinent verkas ?

    slaap het doekvoet gesluip na die bure se tuinhek
    en drie huise verder af het 'n Rottweiler geratel
    teen yster en ontydig geteem, ballingskap kan ook
    onnoselheid van vryheid ontneem - dit was laat laat laat

    my ruite was van binne gewasem en waterdamp het gedruip
    teen kosyne en plafon (ook my hart het lou gewriemel)
    my buik het vreemd gekriewel -
    binne my was meer as ek, daar was meer meer meer


    dit is presies vier maande twee weke en elf uur sedert..



    © 2011 Almarie Truter

      Current date/time is Fri 29 Mar 2024, 2:59 pm