FreeStyle

Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

2 posters

    Om vreesloos te waag

    bennyb&ammiemoon
    bennyb&ammiemoon


    Location | Ligging : Sproesrania
    Posts | Bydraes : 3
    Points | Punte : 9
    Join date | Datum aangesluit : 2011-10-09
    Age | Ouderdom : 55

    Om vreesloos te waag Empty Om vreesloos te waag

    Post by bennyb&ammiemoon Thu 13 Oct 2011, 2:10 am

    ek het my engelvlerke uitgehaal
    daar waar dit al dekades in papier
    (so dun soos die skeidslyn tussen jou en my)
    verpak was
    ek het dit oopgesprei in die son
    om te week in lig en die lag van klein kindertjies;

    in my slooprokkie se sak
    het ek 'n halwe vrypeperment gebêre
    en daar is 'n rooi strik in my hare -
    ek het nie skoene aan nie
    want kaalvoet voel ek die hartklop van die aarde

    hier staan ek nou
    en ek wil weet, kom jy saam ?...(a)

    Ek was rof en onbeskof
    'n rebel met (maar meestal sonder) rede
    ek het my gedagtes nie altyd verstaan nie
    ook nie die weerwil binne my nie
    vrae het my gejaag (want antwoorde moes ek kry)

    Tog iewers in die geen-nonsens-ek
    was ek seer en het ek verlang,
    gepoog om normaal te wees soos ander
    want my andersheid het my gevang
    nou, jare later, is ek dankbaar
    want my andersheid het my gelei na jou

    nou sien ek hoe jy oor jou skouer loer na my -
    Kyk, my tas is reeds gepak om saam met jou
    die pad te vat (b)

    ek lees al vir maande 'n reisplan in jou oë,
    sien kliprante en heuwels
    wat klim en klouter oor jou rug,
    ek sien jou vrae, soveel vrae
    daarom dat ek my vlerke uitgepak het
    (ek dink dit gaan nodig wees om plek plek te vlieg)

    jy moenie kommer nie, ons twee se reis
    is nie sommer net vir sommer nie
    jy moet onthou om iets warm saam te vat -
    soms sal ons teen mekaar moet skuil
    wanneer donker nagte se teemwinde
    om die flappe van ons hippie-tent huil

    maar ek is nie bang nie
    want ek ken jou droom
    en ek ken my droom
    en ek sien wolke wat lig en broos hang,
    sien manna wat soos sneeu op braakland val

    dis nou ons tyd
    en die wêreld lê wyd
    die dag hou asem op en wag,
    wag vir jou en my se eerste wankel spore
    oor die hoogste duin...(a)

    Vir jare al bou daar 'n storm binne my,
    my kompas se noord en suid
    rigtingloos en verdwaal,
    maar een vroeë more het 'n animo son begin skyn
    ek het geweet
    my aardbol was op sy kop gedraai
    en raai

    nou kommer ek nie meer oor foute van gister nie
    ek fokus op hier en nou,
    waar lewe oophand wag
    waar ek deel wil word
    van 'n droom se blouste blou

    Bring jou vlerke sodat ons hoog bo die aarde kan sweef
    vry kan wees in hart en gees
    Laat ons die onbekende betree
    en nooit weer terughou op drome nie,
    hiervandaan sal ons (soos een stem)
    eggo's van lewe oor vêr kranse dra... (b)

    my vlerke pas nog, sien jy ?
    ek hoop ek onthou nog hoe om te vlieg,
    hoe om op te styg en te land
    maar dit gaan alles okay wees
    wat ek hou mos vas aan jou hand

    as kind was ek bang vir hoogtes
    maar nie meer nie
    geen berg of ruimte is hoog genoeg
    om jou en my in die waarmaak van ons drome
    te keer nie

    hier, neem die vrypeperment
    en sit dit in jou kies
    (vir die wis of onwis)
    my vlerke is droog en gereed
    en ek is bly jy is hier aan my sy -

    ek kan nie wag om te sien
    hoe aardsheid
    vanuit die hemel lyk nie... (a)


    BennyB
    © 07/07/2011 Barend Booysen
    Ammie Moon
    © 07/07/2011 Almarie Truter.


    AmmieMoon
    AmmieMoon


    Location | Ligging : Saldanhabaai
    Posts | Bydraes : 413
    Points | Punte : 689
    Join date | Datum aangesluit : 2011-08-28
    Age | Ouderdom : 25

    Om vreesloos te waag Empty Re: Om vreesloos te waag

    Post by AmmieMoon Thu 13 Oct 2011, 2:49 am

    Flippet Ben, lees ek dit nou weer die eerste keer na ons dit so tyd gelede geskryf het, en ek moet se....dit val sag op my oor... *smile*.......Dankie Benna, dis special vir my.... Like a Star @ heaven

      Current date/time is Fri 29 Mar 2024, 2:41 am