onthou jy nog my kastaiingbruin vlegsels
wat ek smiddae aan strikke vir jou opgehang het
aan die geroeste spykerhaak by daardie verslete geel opstaldeur
(die deur met die ou halwe blou oliedrom voor)
daar waar ons male sonder tal, houvas op die
melkkan-hingsels-van-realiteit kon verloor
onthou jy nog die reuk van terpentyn daar binne
en die goue ritsel van hooi,
my verbleikte somerrokkie en kaalvoete,
jou kakie hemp met die bosak wat alewig wou af rafel,
die lendelam bankie, die olielamp en die klein swarthout tafel
onthou jy die stories wat jy my daar vertel het
van jou oupa se trekker wat se stuurstang alewige skeeftrek
waarop jy elke middag na skool (met krom lyne)
aartappellande moes bewerk,
die bruin van die aarde wat gebars het deur jou skaterlag
daardie lag wat ek van veraf kon hoor (selfs nog voor ek jou kon sien)
waar ek by die verslete geel opstaldeur smiddae vir jou moes wag
onthou jy die kletter klatter van haelkorrels wat op die sinkdak kon raas
wanneer 'n somer donderstorm oor 'n vlaktestreek
ons soms vroeër na die opstal laat haas,
daar waar loergaatjies deur 'n sink plafon
dagdrome kon verweef in gouestroop drade van 'n baldadige son,
waar ons met woordespel gefantaseer het oor
'' ek wens ek was''...'' ek wens ek kon''
so byna het ek al daardie verslete-geel-opstaldeur-dae
van ons jonkheid vergeet, tot ek nou weer
hierdie vermaerde kiekie in my album sien -
daardie pienkvoet-dae op 'n plattelandse grasvlakte
toe jy net Alex van die buurplaas was
en ek die laatlam meisiekind van Rooi Koos en ant Lien
nou onthou ek weer vars van my en jou
en my kastaiingbruin vlegsels wat ek smiddae
aan strikke vir jou opgehang het aan die geroeste spykerhaak
by daardie verslete geel opstaldeur

en nou
hier
vanaand
begeer ek om net eenmaal weer die bruin van die aarde
in jou skaterlag te hoor.
© 2011 Almarie Truter