Ek weeg woorde in grote en volume
en balanseer my gedagtes ooreenkomstig.
Nog 'n nag wat vrae vra en vingers wat 'n vers
wil baar.
Nou wonder ek hoeveel asem ek vanaand
in strofes kan blaas sonder om jou skouers
as stut vir swanger sinne te gebruik.
Vandag het slenterlyf verby geskuur
en ek smok 'n purper horison om in die voue
van my aandskemer te pas,
soms is selfs dit onmoontlik want 'n josefskleed
is baie bont en slegs vir uitverkorenes,
kleur ontbreek my deesdae.
My gees besoek weer 'n berg waar wolke
vinniger beweeg as lig en boosheid met
onsigbare hande my borste mutileer,
waar engele tussen katjie-drieblaar beweeg
en lila klokkies kneus om te kleef aan jou
skaduwee wat onoplosbaar deel van myne is.
Maar hierdie gedig spoeg en spartel homself
tot lewe en iewers tussen vrees en vrede
bed ek lêplek vir jou en my,
lepel ek in jou bakhand en laat toe dat
woorde ons slot teen lesers en opinies.
naïef het ek gedink vanaand sal anders wees...
© 2010 Almarie Truter