Ek sluip in die deurnag nader aan jou skerm
en hoop die wind kerm nie my reuk in jou rigting
maar stuur eerder 'n posduif vooruit
om jou voordeur vir my oop te sluit
sodat jy vir my die vensterrame oop kan skuif
om die seebries saam met my in te laat
in die geheime waarvan die land- en seewind
met mekaar praat...(Z)
Vroegmôre al, in my oggendmis-slenter
langs die strand, het ek dryfhout opgetel,
vol swart gate waarin my vingerpunte gladweg
kon speel
het ek my verbeel dit sif soos die maande
se afwesigheid tussen jou en my,
by my wit gepleisterde huisie het ek veel later
jou posduif gekry, met 'n krop vol hoop
(met 'n briefie om sy nek geknoop)
Vanaand gooi ek my luike oop, bind skulpie-riemme
om my enkels en pols en leun vêr na buite -
ek ruik jou sout en voel stout oor ek weet
die wind het vroegdag reeds jou naam gespel
in die klein komming van die baai
waar ek gereeld dryfhout optel...(A)
By jou Slenterbaai het slegs jou voetspore verraai
dat jy reeds daar na my in die wind gesoek het
waar krappe skeefweg speel en seesterre
hulle verbeel hulle kan in die sandkasteel, wat half
deur klotsbrandertjies verslind is, 'n skelm soen steel
en die seegras wuif in die rigting van jou loop met
die kris kras knars van die meeu wat my vertel
van hoop aan die einde van jou spore waar die
varsheid van die son en wind die enigste gehore
van ons weerontmoeting gaan wees as die
skulp-tamboeryne om jou enkels vrolik dans
deur gate in ons tyd se dryfhout... (Z)
jou voeteval op die wit ge(son)de skulpgruis om my huis
het reeds jou terugkoms verraai en toe jy voor my staan
met branders in jou oë, is al wat ek hoor my hart wat
breekwater oor donker rots,
die suidooster in jou lyf was primêr gesetel in jou hande
toe jy my gesig verken asof weer soos die eerste keer
en ek weet ek weet ek weet, nie eers die rooigety van tyd
kon my maak vergeet dat jy springgety in my binneste laat ruis
elke keer as onweer jou terug waai na die kastanjette se gekletter
in die laatnag vuur van my vissershuis...(A)
Die rooiwyn in die glas skitter donkerrooi soos bloed
in die skamper vuur van die laatnaguur se gloed.
As ons gedagtes die pad oor sand en skulpgruis vat
na 'n tyd toe woorde spontaan hand aan hand
kon loop om die glans van sterreprag te verkoop -
selfs sigbaar in digte mis naby die skeepswrak
waar die baai sou vertak toe ons paaie laataand soos nou
moes skei en eensaam woorde hulle eie koers moes kry (Z)
maar vanaand wil ek gedagtes gevange hou,
geen parool verleen aan ons verlede seer
want stormskade sit wit gesout aan my en jou se lyf
en ons vingers is stomp geskryf aan sandbriewe van berou,
vanaand brand daar weer 'n vuur tussen ons
en rooi wingerddou kleef warm aan ons tong,
daar is tamboeryne in jou lag en die skulpies
om my enkels ritsel soos sigeuner-klokkies in die nag
en die bewe in jou hande vertel van 'n groot gemis,
van 'n hunkering wat horingoud is, wat jou
elke blou maan opnuut weer uitspoel neffens
die geroeste skeepswrak op my weskus strand,
hier waar ek selfs helder oordag, jaar na jaar
'n nagkers vir jou brand...(A)
Ek lei jou oor die skulpgruis van jou huis-plavei
na die waterkant van Slenterbaai en ons strek ons
arms uit na die naghemel sonder verraad sonder
oordeel - laat toe dat sterre ons omhels en die maan
ons doop in die silwersee - die silwersee van Slenterbaai
met sy dryfhout en trane en behoud, in seegras wat wuiwend
waai om ons na die oker van vroegdag te lok.
En die seerkry van sandgeskrewe briewe pos ons met
die roes in die wrak en laat die oseaan wat sou vertak
ons weer saamsmelt onder die kobaltblou van nag... (Z)
In daardie blou het jy my vasgehou en het ek geweet
dat maande se gewag vir goed verby is, dat jy weer
in Slenterbaai en by my is en dit was genoeg
dit was genoeg vir nou en vir môre en toe rooidag
ons veel later in mekaar se arms vang, weet ek dat jy
hierdie dag vir ons 'n lapa gaan bou uit al die maande
se dryfhout ontgin uit die kromming van die baai,
daar waar ek daagliks gestol en gewonder het oor ons
en hoop my laat raai het oor wanneer ek jou weer sal sien,
van daardie dryfhout gaan jy vir ons 'n lapa bou sodat die
meeue ook vir ons saans kan sien knus, ook sal weet dat
Slenterbaai en die klein wit pleisterhuisie op die laaste duin,
'n eindbestemming vir handgeskrewe sandbriewe is... (A)
© Christo du Plessis 2011
© 2011 Almarie Truter