FreeStyle

Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

2 posters

    Onvoltooide winter

    AmmieMoon
    AmmieMoon


    Location | Ligging : Saldanhabaai
    Posts | Bydraes : 413
    Points | Punte : 689
    Join date | Datum aangesluit : 2011-08-28
    Age | Ouderdom : 25

    Onvoltooide winter Empty Onvoltooide winter

    Post by AmmieMoon Tue 08 Nov 2011, 5:23 am

    hierdie jaar het winter ongemerk verby geskuur
    nes 'n witryp straatkind iewers teen 'n snelweg;
    kaalvoet, skurf en snotterig maar geen trane,
    slegs poeierwinde, wat soos 'n verslete serp
    uit velerlei verlede winters, gate syfer teen
    die draai van 'n seisoen

    ouerloos en beteuterd, bakhand by elke verkeerslig,
    geen woorde, net grys dood in versonke oë wat reeds
    in die doeke geleer het dat niemand juis stop en omdraai
    om 'n kombers oor verrimpelde skouerbene te hang nie

    die kind het hans geword, straatslim
    vol truuks om empatie te melk uit middelklassers
    met gewete;
    met sy skraalte en yl beloftes het hy, rug teen beton,
    in stege begin skuil tot lente weer in stikdik walms
    van uitspattige bevrugting peul

    hierdie digter het 'n sawwigheid vir skeeloog
    verkluimde bogsnuiters en weet dat ook hierdie
    jaar se optelkind gaan dros sonder groet of askies
    (sodra dageraad langer strek as bevrore nagte)

    steeds, oor hierdie seun is ek sentimenteel,
    sy oë blyk blouer te wees as al die ander -
    gereed om te bedelry tot by die volgende afdraai
    voor, waar die skuins helling split

    en ek bid, ek bid ...'' Here, hoe leef ek sonder
    hierdie kind wat verleer het om te huil
    oor tekort ? ''



    © 2011 Almarie Truter
    Torm
    Torm


    Location | Ligging : Donker Afrika
    Posts | Bydraes : 260
    Points | Punte : 465
    Join date | Datum aangesluit : 2011-09-16
    Age | Ouderdom : 67

    Onvoltooide winter Empty Re: Onvoltooide winter

    Post by Torm Tue 08 Nov 2011, 11:10 pm

    Ek kan sulke kinders nie in die oe kyk nie, te bang ek verloor my siel heeltemal. Welgedaan!
    Dankie vir jou inloer by reinkarnasie.

      Current date/time is Mon 29 Apr 2024, 5:23 pm