die vrou wil iets saambring uit die onbegrensde land
waar sy haar sawens bevind
waar sy serpentyn trappe van nag beklouter
tot in knusholtes van die marmer maan
die vrou wil iets saambring wat nog wolk in wierook walms
waaraan die vlerk geklap van vlermuise nog kleef -
taai en soet van saad en verwagting
die vrou wil iets saambring wat nog ruik na kluite
wat nog damp van ondergrondse water
wat nog silwer aar in ravyne van die aarde
die vrou wil iets saambring vanwaar ramshorings
opklink bo die slagveld tussen gees en vlees
waar sy name van afgestorwe krygers (in braille)
tussen tender blaaie van boomholtes lees
maar die bloedlelie in haar hand verwelk telkemaal
met die eerste kus van dageraad
daar waar sy elke nag swingel in 'n transparante halfmaan wig
op ongedefinieerde grenslyne tussen donker en lig.
© 2011 Almarie Truter