[center]die lawaloog skeiding tussen dag en nag
word dun soos selmembrane
daar waar die son skemeruur versuip
net om opnuut te brokkel en braak aan 'n vreemde kontinent
waar die uurglas se middellyf versink
wurg aan laaste grepe lig
en opeens
opeens klad floutes van lila en blou
teen nag se lou tong
geswolle
koorsig
'n stolling van hoop
klein ontsnappings van ingehoue vrees
die hartklop van 'n prooi
'n nonnetjieuil se grootoog verwagting
en iewers
iewers word nag gebore
bars sterre uit 'n ovum
bloei 'n maagd opnuut
weens betreding van 'n oorbewaakte poort
later
later begin nag weer blou blou bewe teen steenkool drumpels
tot lou flikkerings van dageraad
repe keep
teen slap polse
van 'n uitgeloopte nag.
© 2011 Almarie Truter