ek gaan al die slotte na
besluit op die ingewing om my deur
oop te gooi
nag te betree
om bloedstollend stom te skree
met klank weggebêre in my geklemde vuis
jy hang weer sfeeroog my maan
en ek verstaan
vanaand dimpel ou kraters
op jou porselein wang
skuifel oor gras en stuifmeel stempels
tintel teen kroonblare se fluweelbedspore
voel bekend verlore teen die aanklag
van stil verwyt
staan halfnaak in 'n lyf wat klein kneuse laat
waar ek môre weer moet loop
jy hang weer sfeeroog my maan
en ek verstaan
vanaand dimpel ou kraters
op jou porselein wang
ek voel tuis hier waar donker skouerskuur
teen uitgeteerde groei,
waar nagvog teen jong stingels bloei
tot wortels bottelblond teen swye vleg
waar geen mens kan sien watter vonnis
ek in my oë uitdien
jy hang weer sfeeroog my maan
en ek verstaan
vanaand dimpel ou kraters
op jou porselein wang
toe ek veel later die deur sluit
voel ek vreemd heel in die warm klug
van vier mure
tel ek slapelose ure teen die tik tak tik
van die ouman in die gang
jy hang weer sfeeroog my maan
en ek verstaan
vanaand dimpel ou kraters
op jou porselein wang
© 2010 Almarie Truter
- Attachments
- Mankmaan - gedigte.wma
- You don't have permission to download attachments.
- (1.9 Mb) Downloaded 5 times