spoorstawe en waens vol ystererts dawer in die verte
wyl branders teenstrydige rus sus teen 'n donker kuslyn
my kleed van rou, vou bekend om die witte van my lyf
en my swart kat rol koketterig in die oprit (gereed om my
te vergesel op my nagtelike wandeling)
oor hierdie aweregse gewoontes, vertoon ek
in my eie woonbuurt steeds (na jare)
as 'n uitgeworpene en banneling
gepoeierde skulpgruis nestel kneuse teen my voetbed
en ek koester hierdie kleine martel soos geboortepyne,
immers is hierdie aardbodem ook myne, om spore te laat
op soek na, of op vlug van wat ook al my jaag of ontwyk
soms is dit jy juis die reis wat my met verligte oë
na wandelroetes deur donkerte laat kyk
nag kraak met 'n sug en 'n geritsel en skadu's val in gelid
om my te vergesel op 'n swerftog deur nog 'n swartwoud vol vrae,
nimmer die geween en gekla hoorbaar in die donderslae
van my hart teen ribbebeen, een enkel alleen (uit vrye keuse)
want die leuse teen my binnewand stipuleer : jou bloed hoef
nooit weer te konformeer tot sonkind of dagbewoner -
jy is weer gebore en herdoop in die genepoel
van die verligte hemelkoningin
krygers van die duister begin teen sandduin-boggels fluister
en ek luister (soos elke nag) na hul gruwels en verhale,
deps uit geroeste joernale van die see na waarheid
en mites om hul te troos, ewig worstelend die stryd
tussen goedheid en boos (ook in my eie hand en pen)
die vrou, alte veel slagoffer van wat sy reeds verloor het
en wat sy nog wil wen
kerse steek bruin kardoesies aan die brand en die hemel
reën sterre om my heen, soos in my kinderdae
toe my drome vol kosmos vlamme was en ek in my bedjie
met fee en dwerge moes dans om nie te hoor hoe my moeder
dieper af in die huis se skemer gang, in haar eie
kopkussing ween - ook sy een enkel alleen
maar hierdie abis is myne en ek sjuut-roep my nag-jags-kat
voor ek in die maan se deuropening verdwyn.
© 2011 Almarie Truter