jy wat elke dag vreet aan 'n sterwende
se week-uiter-woorde
jy wat in 'n donker vrou se tongval verdwaal,
probeer ontsyfer hoe sy sin maak
uit haar eie sinnelose hel
het jy al diep, klam, malagietgroen woude
in ligte laaie sien staan
aanskou hoe soete sap van blaarskede skroei
tussen draaktongvlekke van oranje, geel en rooi ?
het jy al dieper as die geskrewe woord gelees
van gebottelde asem, stikstof-besoedelde wasem
wat vlermuisvalke smeer teen vaalgeel ruite,
waar sy poog om deur waansin en skyndood-drome
'n polsslag te vind om hierdie dag aan lewe te verbind ?
loop suutjies waar jou oë dwaal
gebruik slegs vingerpunte om te blaai
bloed kleef immers aan papier en vel
daar waar geheime slingerswaai
tussen waarheid en hel.
© 2011 Almarie Truter