triesterig windvlaag gryse sproei teen my skene
en ek groet die prikkelprins van lente
deur lippe wat oopvou onder klamme lus
palms reep in bruine teen 'n armdruk wind
en sink die son tot anderkant môre,
vandag is uitgeklaar vir miskomberse, kaggelvure
en winter se laaste
vingerstreep in 'n byna uitgeloopte jaar
om te sluk aan lentereën verg 'n inner weet
dat lewe selfs deur rots kan blom
( winter teer immers op vergeet )
wolke bleek teen my aangesig
en veeg gister-trane teen vars hemelvog
tog bly ek dwalend want môre vaag
teen woelings in my kop
ek sluit my deur van buite maar gooi my hart se luike oop
teen die borsharnas van hierdie onweer dag
wag dat winter my verlaat,
ek bevrore deur somer moet sleur
om weer eendag
winter se koue hand
teen my bors te knus.
© 2011 Almarie Truter