FreeStyle

Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

    Kersfeesliggies

    avatar
    Louise Venter


    Posts | Bydraes : 10
    Points | Punte : 30
    Join date | Datum aangesluit : 2012-05-02
    Age | Ouderdom : 77

    Kersfeesliggies Empty Kersfeesliggies

    Post by Louise Venter Wed 02 May 2012, 6:25 pm

    KERSFEES – 2011
    Dis Kersfees – dis tyd vir liggies opsit – duisende daarvan – geskenke koop – kersboom opslaan - kos gereedmaak – vakansieplanne beraam – want die grootste verjaarsdagpartytjie van die jaar word word beplan – maar daar is EEN uitsondering – by die meerderheid van die partytjies is die Een wat verjaar, nie genooi nie – en total uitgesluit – Sy Naam word nie eers genoem nie – want dis mos ‘KRISMIS’ – nie meer CHRISTUS-FEES nie – Die woorde “Geseënde Christus-fees” – word vervang met “hêppie-hêppie (nie eens ‘happy’ nie) krismis”!!!!
    Ek dink aan die verlede - hoe wonderlik was dit om saam met Oupa, Ouma, Pappa, Mamma gewoonlik die hele familie met ooms en tantes, nefies en niggies – almal in ‘n kring – weer na die Kersverhaal te luister terwyl Oupa dit voorlees en kinders grootoog en met verwagting sit en luister na die mooiste verhaal ooit vertel – die geboorte van ons Jesus Christus, die Seun van God. Die gebed van danksegging vir hierdie wonderlike gebeurtenis is so intens en opreg – almal se harte gevestig op Hom wat vir ons gebore is op hierdie dag – so lank gelede, maar opnuut elke dag. Die verhaal word elke jaar mooier na mate ons ouer word en dit beter kan verstaan en Sy intense Nabyheid ervaar.
    Die musiek van “Stille nag, Heilige nag” en “Die Heiland is gebore” klink op en almal sing heerlik saam - waarom maak dit mens weëmoedig en wil die trane net loop? Omdat hierdie ou-ou liedjies so mooi is, die woorde so waar en altyd die gedagtes laat terugdraai en dan ook verlang na hulle wat nie meer saam met ons in die kring is nie – ten minste nie hier op aarde nie. Ons wil nie ophou sing nie en wanneer al die liedjies deurgesing is, begin ons sommer weer voor – dis dan so lekker – dit is een van ons geskenke aan Hom – ons sing vir Hom! Alles gaan mos net oor Hom!
    Kerse staan oral rond in blakers met helder vlammetjies wat regop brand– weereens tot Sy Eer - want Hy Is mos Die Lig van die wêreld! Die hoof- tooisels aan die boom is engeltjies en sterre – want ‘n Engel het mos die Goeie Tyding van Groot Blydskap gebring en die Ster het die wyse manne na die stal in Bethlehem gelei.
    Geskenke was toegedraai en keurig versier met mooi boodskappies daarop – die kleinste geskenkie was so opreg waardeer,want dit was geskenke uit die hart – speelgoed, lekkergoed, gebruikgoed, lekkerruik-goed, hekelwerkies – met die hande gemaak – en ook die mooiste kersfeeskaartjies – goedjies wat jare sou hou en waarvan sommige nog jare daarna geruik kan word wanneer ‘n ou herinner-boksie weer oopgemaak word.
    Na die opgewonde uitdeel van geskenke het almal rooi koeldrank gedrink en outydse soetkoekies ge-eet – die bietjie suiker wat toe nog so onskuldig vir ons “energie” verskaf het om alles terdeë te kon geniet. Hedendaags is dit sjampanje-proppe wat skiet, glase wat oorbruis en die opgesmukte geskenkpapier vlek – die oordonderende “hêppie-hêppie” geskree, gelag, gevloek, grappe en besprekings van waar die en daai geskenk wat R2000-00 gekos het, bekom was vir R1500-00 – (vir ‘n kind van so 3-4 jaar?) – vrou se juwele wat ‘n “bargain” was vir R21,000-00, maar na die opgewondenheid van “Krismis” in die kluis geplaas moet word want dit is net vir spesiale geleenthede – is Jesus se geboorte dan nie so spesiaal dat ons ELKE DAG daaraan sou dink as ons die stuk juweliersware permanent moes dra nie?
    Kersfees of Christus-fees het nie verander nie, maar die mens het. Waar duisende liggies dans en flikker en mense “betaal” om na die “mooi versierde huise” te gaan kyk - tot verkeersknope veroorsaak – asems intrek van verwondering – ja, dis pragtig, maar is dit ook Kersfees in jou hart???? Wat baat al die prag en praal, maar jou siel ly skade, want die gedagtes is nie by Jesus nie, maar net by die “wonder-liggies” wat betower en bekoor!
    Nee, Kersfees is net gekommersialiseer – dis ‘n tyd vir geldmaak en oorboord gaan met geskenke – drank wat vloei – eksotiese disse wat berei word en wat meestal in die asdrom beland omdat daar so baie is en nie alles opge-eet kan word nie.
    Voordat ons hierdie jaar begin beplan, dink aan dinge wat lewenswaarde het, soos ‘n boek met dagstukkies, daar is so baie op die mark – op uitverkoping tot so min as R20 – koop sommer ‘n paar, boksies met “daaglikse brood” kaartjies – iets vir elke dag van die jaar om ons te herinner aan die ware sin van die Christus-fees. So ‘n kersgeskenk hou tog die hele jaar en vir sommige sentimentele wrakke, soos ek, lewenslank want dit bly kosbaar!!!!
    Firmas spandeer duisende rande aan kersetes en partytjies – vir die personeel wat so hard gewerk het – almal praat die volgende paar dae van hoeveel hulle ge-eet en gedrink het en hoe sleg hulle gevoel het – hulle kan mos maar oorboord gaan, want die firma betaal - waarom span ‘n firma nie eerder saam en samel geld in en skenk dit vir ‘n “hospice” of kinder-tehuis, of diere-sentrums waar soveel diere elke jaar net afgelaai word – almal trek swaar met geen bystand van die regering nie en maak net staat op die bydraes van die publiek – dit is waar daar werklik nood is - elke bydrae, hoe gering ookal, is ‘n geskenk vir Jesus – want Hy sê “sover julle aan ander goed gedoen het, het julle dit vir My gedoen”!
    Kom ons vat weer mekaar se hande op Kersfees-oggend by die kerk, in plaas van hoofpynpille drink om die kloppende hoofpyn van ou Kersaand se oordadigheid af te weer.
    Laat Kersfees – die Christus-fees – weer herleef – en laat toe dat “Kom kinders, kom juig nou met vrolik’ geskal – oor wat daar gebeur het in Bethlehem stal”………………………..die klanke van “jingle bells” en “hêppie-hêppie” heeltemaal uitdoof en laat die vlam van Jesus se geboorte weer in jou hart – en in dié s’n met wie jy in aanraking kom – vrolik en helder brand. Laat daar weer “vrede vir julle” wees hierna en mooi wense realiseer met Jesus as Middelpunt van jou lewe.
    En vir ons wat hierdie jaar ‘n dierbare moes afstaan aan die dood, en dit dus ‘n “eerste” Christus-fees sonder hom of haar is, dank ons God vir mooi herinneringe wat Hy gratis aan ons skenk om onbeperk te gebruik en met die wete dat ons geliefdes knus aan Sy voete verkeer, maar altyd in ons harte sal voortleef!
    ‘n Geseënde Christus-fees vir jou en jou dierbares (viervoetiges ingesluit)!
    Jesus-liefde
    Louise (2011)



      Current date/time is Sat 27 Apr 2024, 8:33 am