nag was wit soos 'n sprokiesverhaal
ek het heelnag alleen op die maan gestaan
rondom my het blomme gebod
blomme met saadknoppe so groot soos vuiste
kleur was oral in uitspattigheid
en die aarde was klein en vêr, oorspoel met water
'n minute blou stippeling
voëls met groen vere het nag lank in my hart gesing
ek was deursigtig,
transparant soos my gedagtes
daar was niemand op die maan behalwe ek nie
net my moeder se hartklop onder my kaal voete
haar bors se deining het gegolf oor 'n vrugbare vallei
'n duisend gedigte het gefladder rondom my
nag was bladsye uit 'n oeroue verhaal
ek het heelnag alleen op die maan gestaan.
© 2012 Almarie Truter