wat maak ek nou met hierdie albaster klippie
in my hand ?
ek koester dit al maande, gedink ek wil dit eendag,
wanneer die horison nie meer rooi is nie, vir jou gee -
jy was immers geboek om silwer loof uit my oë te vee;
wind vlaag sout teen my skene en vriesbyt laat my leun
teen oorhang rots
en ek wil kots
kots van rou oor jou
oor jy nie eens weet van hierdie albaster klippie nie
oor ek weet die rooi het uit jou horison gewyk
oor jy, nes ek, nou aan doodgebore dae beswyk
gister het ek die lagplooitjies om jou oë
in kiewietspore geëien , maar die bitter kepe om jou mond
is gestekel om my hart,
daar waar albaster drome nou aan kapstokke hang,
waar jou wegraap, my ( meestal ontydig )
met albaster klippies in die sak, langs 'n getylyn vang;
nuwemaan sekel vanaand yl teen nag se hals
en ek weet, sonsopkoms sonder rooi ( en sonder jou )
proe môre weer soos bitterals -
wat maak ek nou met hierdie albaster klippie
in my hand ?
© 2011 Almarie Truter