sewe volsinne vol van jou
klingel soos skulp stringe in my lyf
en ek probeer naarstig om hulle,
soos die reuk van son en somer strande,
in 'n vers vas te skryf
ek faal klaaglik
skaaldiere van die oseaan (lankal reeds vergaan)
hang (skedels na bo) in die gange van my aorta
met kelp, wat jou drentel deur my lyf,
in sagte brander ruising demp
ek hoor (iewers in my kop) jou geklingel teen die aandwind
en krakies fluit 'n meermin lied tot in dieptes van
my are, my bloed en my goed
dit klink soos lettergrepe van my naam
my naam my naam
dit is daar waar ek staan
dit is daar waar ek staan, waar ek swik swik
my hand oor my hart laat gly, verby jou selfs,
verby die wandelpaadjies wat jy oop geloop het,
verby jou skulp stringe wat heupswaai en slenter
in 'n deuropening waar gedigte gebore word
en ek sukkel
here, ek sukkel om jou vas (of los) te skryf vanaand.
© 2011 Almarie Truter