ek onthou nog as kind die wonder
van sand en see met die berg:
blou-ver belowend oor die water
maar nou’s dit al heelwat later...
ek onthou nog as kind die trots
oor die wete dat dis ʼn wêreldwonder
en ek kon daaraan ruik, raak en proe
as branders se sout-sproei spat en klots
soos Afrikaanse woorde teen Afrika-rots
ek onthou nog as jongman die vreugde
van swem en sandkastele bou soos drome;
die verligting van werk en bekommernis
agtergelaat vir vakansie - min het’k gewis...
maar darem daar het liefde gebloei
en dit was kinderlik, energiek, vol vreugde -
net soms was daar ʼn ander skadu in my drome
as die Suidooster sand-seer om die hoeke loei
ek onthou min van oudword, dis alles hede...
ek onthou wel goed die gevoel:
ontnugtering met die nuwe strand-gewoel -
op ander strande en eilande soek ek nou vreugde -
maar onuitwisbaar soos die dood
dra ek ʼn foto saam in my hart
omsoom deur rooi weefsel, vas-
gegroei soos ʼn bloederige gewas:
daar was eens ʼn blou berg vol drome
geraam deur sand en see en lug vry van smart
© Torm 2010