FreeStyle

Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

    Wat sal jy doen as jy die mag ontvang om ’n land te verander?

    Torm
    Torm


    Location | Ligging : Donker Afrika
    Posts | Bydraes : 260
    Points | Punte : 465
    Join date | Datum aangesluit : 2011-09-16
    Age | Ouderdom : 67

    Wat sal jy doen as jy die mag ontvang om ’n land te verander? Empty Wat sal jy doen as jy die mag ontvang om ’n land te verander?

    Post by Torm Wed 09 Nov 2011, 8:30 am


    ’n Paar mense snak na hul asem toe hulle besef dat die Biskop klaar is; hy voeg geen titel na “Koning Iannus die tweede” by nie. As hy sou sê “van Chalcedonum,” die oorspronklike gebied van Uther die Grote, sou dit die Rooi Prins ontstel. Almal weet dat die Prins eintlik agter die barbaarse moegoes is wat die Noord-Oostelike dele anderkant die Sneeuberge, en Suidwaarts tot by die heilige stad Chalcedonum oorval het, en dat hy hulle met geld en toordery beheer. Niemand sê dit hardop nie, en niemand vra hoekom die Biskop in die kerk-stad net Suid daarvan, so veilig voel nie. As die Biskop een of ander mindere titel sou byvoeg wat na die huidige kleiner gebied om die kasteel tot by Edburg in die Noord-Weste verwys, sou die lojaliste hom dit verkwalik.
    “So,” dink Sorm geamuseerd, “hy het ’n slim uitweg gekies en niks gesê nie.”
    Sorm buk vooroor, soen ewe gedwee maar die seëlring aan die Biskop se vinger en staan op.
    Die Biskop verwys Sorm met ’n handgebaar na die marmer-troon aan die einde van die saal. Hy vou sy mantel onder hom in en gaan ongemaklik daarop sit. Die twintig wagte kom van buite af in en vorm ’n seremoniële gang voor hom.
    Die hooggeplaastes kom een vir een na hom toe om te kniel. Party oorhandig geskenke of simbole van hulle gebiede. Khula, met sy mantel se kopstuk laag oor sy voorkop, verskyn langs Sorm met die pak briewe en ’n bakkie vol warm was.
    Sorm staan op en trek die kopstuk van Khula se gesig af sodat almal sy donker vel kan sien. Khula knip sy blink oë en staan penorent. Volgende neem Sorm die bak met warm was by hom en gee dit vir Die Sekretaris wat aan die ander kant van sy troon staan en krities na Khula kyk. Die nuwe koning gaan weer sit.
    Wanneer een van die lede van die Komitee van Uther, of van die Kasteelraad, of hulle verteenwoordigers, kniel, gee Khula die brief vir Sorm. Hy druk dan die seëlring aan die punt van die septer in die warm was, druk dit op die opgerolde brief en gee dit vir die persoon.
    Heel laaste kom Sorm se boetie en sussie na hom toe terwyl sy ma, nou deur helpers in haar draagstoel gedra, ’n ent weg wag. Hy plaas sy hande op elkeen se kop. Nog mense snak na hul asems toe hy die seëlring van die opvolger, wat aan sy vinger was, afhaal en aan sy boetie se vinger sit. Laastens roep hy vir Krog nader.
    “Voor almal hier teenwoordig stel ek hiermee vir die Ab van Edburg aan as voog-regeerder vir my broer, wat Iannus die derde sal wees na my dood,” sê hy en tik vir Krog met die septer op sy regterskouer.
    Daar is ’n gebrom tussen die toeskouers, maar Krijger en sy manne, wat steeds ’n entjie van die troon af in ’n halfmaan tussen hulle staan, plaas hulle hande op hulle swaarde en die gebrom bedaar.
    “Ek vra jou om my broer Ioan na Edburg te neem wanneer jy vertrek, en met sy opleiding te begin,” sê Sorm.
    “Ja Majesteit,” antwoord Krog. Toe draai hy om na die toeskouers en sê met ’n harde stem: “Lank lewe sy Majesteit, Koning Iannus die tweede!”
    Krijger beaam dit eerste en daarna volg die res.

    Sorm neem dit as sy teken om op te staan. Hy stap tussen die twintig wagte deur. Krijger beweeg vinnig om vir hom ’n pad deur die toeskouers oop te baan. Hy gaan staan vir ’n oomblik voor sy ma se draagstoel en vat aan haar hand. Die nuwe koning stap toe verder deur die deur waar hy ingekom het, deur die klein tuintjie met die trappe op tot bo-op die brug. Hy gaan staan by die reling sodat die mense in die binneplein hom kan sien. Krijger wil voor hom gaan staan, maar Sorm stoot hom weg. Die moordenaars sal nie hulself verraai deur nou weer te probeer nie. Miskien môre of oormôre, of die dag daarna, maar nie nou nie...
    Hy waai vir die mense en daar bars ’n gejuig los wat groei van ’n paar mense in die binneplein tot ’n groot skare wat buite die kasteelhek saamgedrom het. Hy draai na die ietwat onwillige Sekretaris wat nou ook maar daar kom staan het en sê hard sodat almal hom kan hoor:
    “Laat daar vanaand en môre ’n fees langs die kasteel wees. Ek skenk vyftig vate bier van die kasteelvoorraad en beveel hiermee die kasteeljagters om dadelik uit te gaan. Alles wat hulle vandag nog kan jag, behoort aan die mense daar buite.”
    Sorm weet dat daar nie ’n fees vir die gewone mense voorberei is nie, en los Die Sekretaris met die verleentheid van oorhaastige voorbereidings. Hierdie keer gaan dit nie net die hooggeplaastes wees wat by ’n feestafel aansit nie.
    Daarna gee hy vir die leier van die wagte opdrag om te keer dat iemand hom pla, en verdwyn saam met sy groepie vertrouelinge by die trap af na die slaapsaal toe. Hy wil gaan inspeksie hou by die wapensmid, magasyn, perdestal, skatkamer en ander plekke om te sien hoe dit gaan met die projekte en voorbereidings waarmee hy al voor die kroning begin het. Noudat hy die gesag het, sal daar dalk beter vordering gemaak word. Hy moet ook met Krog, Krijger, Khula en verskeie ander praat voordat hy weer na die troonsaal gaan vir die res van die dag se seremonies en feesvieringe...

    Teen die derde dag van die feesvieringe is al die hooggeplaastes van ver af reeds huis toe, party met hul briewe oor die herlewing van die komitee van Uther die Grote. Dis ’n vredesgebaar, oproep om samewerking en, vir dié met kwade bedoelings, dalk ’n teken van swakheid van sy kant af. Of altans só hoop Sorm.
    “Ons sal die maskers sien afkom as dit lyk asof die geleentheid daar is om die kasteel aan te val,” dink hy.
    Op dieselfde dag vergader Sorm se Kasteelraad vir die eerste keer in die ou troonsaal. Op een uitsondering na is al die belangrikste lede daar: Krog; Krijger (vir eers op die agtergrond weens sy lae rang); Barac, die kaptein van die leër; die baie invloedryke Sekretaris Rabian, oftewel Die Sekretaris; die burgemeesters van Edburg, Kasteeldorp, die Noord-Oostelike Distrik en Comien, die grootste dorp aan die Suid-Oostekant; Khula as verteenwoordiger van Baron Sean (vir eers); en die getroue Baron McKenzie van die Weste.
    Die ander Baronne en die Rooi Prins, almal van gebiede wat lank reeds nie onder die gesag van die troon staan nie, is nie deel hiervan nie, en so ook nie die verslane leiers van die heilige stad Chalcedonum nie.
    Die enigste afwesige is die Graaf en ander leiers van Midlands, die area net Noord van Chalcedonum, wat reeds tydens die bewind van pa Iannus afvallig begin word het. Midlands gaan boonop gebuk onder aanhoudende strooptogte deur die moegoes. Hulle is die barbare wat vanuit die Ooste en Noordooste gekom en met geheimsinnige hulp van elders, Chalcedonum omsingel en effektief onregeerbaar gemaak het.
    Midlands en die gebied om Kasteeldorp word deur onherbergsame woude en berge aan die Noordelike en Oostekant beskerm, maar deur die heilige stad Chalcedonum aan die Suid-Oostelike kant lê die pad nou oop. Die burgemeester van Ametus, wat die Graaf by die kroning verteenwoordig het, het ongesiens tydens die fees verdwyn. Hy was waarskynlik bang om te veel ondersteuning te toon én onder druk om sy dorp te gaan beskerm.
    Die laaste persoon teenwoordig is die argitek van Edburg, wat ’n spesiale gas is.
    Eerstens formaliseer Sorm die lys van sake vir bespreking, wat grootliks bestaan uit die lys wat hy drie dae gelede met Khula en Krog bespreek het. Dit bestaan hoofsaaklik uit die daarstel van ’n stabiele regeringsproses, die versterking van die grens-torings en die kasteel, ’n nuwe opleidingsprogram vir soldate en die voorkoming van hongersnood en siekte op die kort-en langtermyn. Kaptein Barac stel voor dat die Midlands kwessie bygevoeg moet word. Sorm reserveer laastens vir homself ’n belangrike aankondiging aan die einde van die vergadering. Daarna sluit hy die sakelys sodat die komitee begin leer van orde en om hul sake voor die tyd te laat lys.
    Almal om die groot ou eikehouttafel in die troonsaal lyk tot dusver gemaklik, behalwe Barac. Hy is ’n vurige soldaat, voorheen ’n huursoldaat van ’n verre land oorsee, het geen titel of stand nie, en voel bedreig deur al die veranderings sedert die dood van die ou koning wie se vertroueling hy naby aan die einde was. Verder ken hy nie hierdie seun wat skielik die kroon dra nie.
    Sorm probeer sy bes om hierdie kerngroep van sy regering te peil, en bemerk Barac se ongemak. Hy verduidelik dat hy van almal om die tafel verwag, behalwe om sake van belang te laat lys, om goeie raad te gee sodat die regte besluite geneem word.
    Hoe verder hulle deur die lys gaan, hoe meer hoop die werk wat gedoen moet word, en die totale koste van dit wat benodig word, op. Sorm het met Krijger se hulp reeds voor die kroning die oppasser van die skatkamer sover gekry om vir hom oop te sluit, so hy weet wat beskikbaar is. Hy weet ook dat die skatkamer tans elke maand krimp in plaas van groei, aangehelp deur die toenemende afvalligheid van sekere gebiede. Die koninkryk kan nie vir lank aanhou betaal vir die materiaal wat nodig is vir al die versterkings, en vir die werkers wat benodig gaan word nie.
    Sorm gee aan elkeen met gesag oor ’n gebied, ’n perkament-rol waarop presies uitgestippel is, volgens opnames wat hy lankal reeds doen, wat die produksie en handel in sy gebied is en wat die belastingopbrengs teen huidige koerse daaruit behoort te wees. Op die perkament-rol staan ook wat hy maandeliks in sy skatkamer in die vorm van geld en goedere verwag, en watter take en prioriteite hy vir daardie gebied bepaal. Almal kyk geskok en verstom na die dokumente. Khula en Krog probeer hard om nie geamuseerd te lyk nie.
    Aan die einde van Sorm se oorspronklike lys van items praat hulle, met die argitek se hulp, oor die versterkings wat Sorm aan die grens-torings en aan die kasteel wil aanbring, die verskuiwing van die troonsaal en die verandering van die ou troonsaal in ’n eenvoudige katedraal. Dit gaan baie klip kos om die hout mee te vervang. Yster, koolstof en werkers sal nodig wees om boonop die program van bewapening waarmee Sorm wil begin, uit te voer.
    Nou begin beide Die Sekretaris en Baron McKenzie protesteer dat die hulpbronne te min is. Sorm maak hulle stil met die belofte dat dit as deel van sy aankondiging aan die einde bespreek sal word. Hy gaan voort deur vir Krog opdrag te gee om, teen die volgende vergadering, met ’n plan van morele hernuwing en verbeterde opvoeding vorendag te kom.
    Elkeen kry nou kans om oor die Midlands kwessie te praat. Kaptein Barac en een burgemeester dring daarop aan dat die volle leër moet opruk en die moegoes moet verdryf.
    ’n Ander burgemeester vra bekommerd: “Maar wat van die moegoe hekse en hul toorkrag?”
    Sorm frons maar sê niks. Khula kom laaste aan die beurt. Hy stel voor dat eerder leierskap en versterkings nodig is.
    “Wanneer die moegoes op volle sterkte oor daardie grens kom, is beide die leër en die grens-torings te swak. Die enigste plek waar hulle moontlik gekeer kan word, is by hierdie einste kasteel waarin ons sit,” sê hy.

    Op daardie punt beduie Sorm dat die bespreking verby is. Vir die eerste maal, die eerste van baie wat nog oor die volgende paar maande sou kom, skok hy sy kasteelraad. Hy sê:
    “Midlands is leierloos en die Graaf het lankal reeds beheer oor die heuwels Noord van Chalcedonum verloor, en nou ook van Midlands self. Die pragtige vallei rondom daardie grenstoring lê braak omdat die boere te bang is. Kaptein Barac, ek bied aan jou hierdie uitdaging: Neem die paar troepe wat ek jou gee en hierdie magtigingsbrief, werf vir jou ’n leër uit die boere daar, vestig ’n wapensmid en herstel die orde. Bring ook die invordering van belasting in Midlands onder beheer. Slaag jy daarin, sal ek jou die titel van Graaf gee met gesag oor daardie vallei, die heuwels, en Ametus, die tweede grootste dorp in Midlands, waar jy jou kan vestig. Aanvaar jy die uitdaging?”
    Barac kan dit nie glo nie. Die ambisie wat hy al lank in die geheim koester, die wete dat hy tot meer in staat is, meer as hierdie slap adellikes wat die ou koning so in die steek gelaat het, dit alles was óóp voor hierdie seun; hy het geweet daarvan en hy bied hom ’n kans om dít te doen.
    “Ja, my heer,” is al wat hy kan uitkry.
    In daardie oomblik verander hy van ’n geharde soldaat wat op hierdie seun wat nie eers aan die oorloë deelgeneem het nie, neersien, tot ’n volgeling van die nuwe koning. Laat hy nou ooit weer ’n soldaat teëkom wat langs ’n kampvuur spot met “die klooster-prinsie”, soos wat sommiges hom noem!
    Die Sekretaris verstik in sy glas wyn.
    “Maar u kan nie, ...“ stotter hy ná ʼn hoesbui.
    “Wat kan die koning nie?” vra Sorm.
    “Maar daar is nie voldoende soldate en geld om dit te doen nie!”
    “Ja, en u syfers oor die belastings wat ingevorder kan word, strook nie met die werklikheid nie,” kla die burgemeester van Kasteeldorp.
    “Dit is twee goeie punte, en dit bring ons by my aankondiging,” antwoord Sorm en gaan dan voort:
    “Die antwoord op dié probleme is tweeledig. Hierdie eens magtige koninkryk boer vir geruime tyd reeds agteruit omdat die belastingstelsel onderpresteer en omdat die helfte van ons soldate by die Biskop diens doen. Hulle beskerm hom sogenaamd teen die moegoes. Boonop moet ons ekstra vir hulle onderhoud daar betaal. Ek is daarvan bewus dat die soldate se moraal baie laag is as gevolg van die haglike toestande waaronder hulle moet lewe. Verder is daar onduidelikheid oor presies wat die verhouding tussen die moegoes, die Rooi Prins en die Biskop is. Dit is selfs moontlik dat ons soldate gebruik word om die sogenaamde invallers te beheer terwyl hulle Chalcedonum vir iemand anders inpalm.”
    Hy bly ʼn oomblik stil en toe sê toe: “Eerstens, Sekretaris, bied ek u ’n tien persent bonus aan op die maandelikse toename in belastings ingevorder, SONDER dat die koers waarteen belasting gehef word, verhoog. U sal sien, menere die burgemeesters, dat hierdie uiters bekwame amptenaar u geweldig baie gaan help om daardie probleem gou op te los.”
    Daarna gaan die jong koning voort: “Tweedens onttrek ek hiermee onmiddellik my soldate aan die Biskop se wag, totdat die situasie in Chalcedonum duideliker is. Kaptein Barac, dit is u is werk om die onttrekking te bestuur. Vir elke twee soldate wat u terugstuur na ’n plaas of na ’n verlangende gesin, kan u ene aan uself toewys vir die werk wat u moet doen. Sekretaris, u kan die Biskop in kennis stel dat, aangesien die onderhoud van my soldate nie meer ’n las op hom plaas nie, ons voorlopig die betalings aan hom staak.”
    Niemand kan ’n enkele woord uitkry nie.
    Sorm beskou dit as sy kans om af te sluit: “Aangesien daar nie verdere bespreking is nie en uit respek vir die werk wat elkeen van ons nou het om te doen, beëindig ek hiermee die vergadering. Khula, voltooi asseblief die papierwerk waaroor ons gepraat het. U ander is welkom om klaar te eet en dan na u werk terug te keer.”
    “Ek verwag weeklikse terugvoer van elkeen,” sê Sorm streng terwyl hy elkeen om die beurt in die oë kyk. Toe staan hy, Koning Iannus die Tweede, op en stap uit die saal, oor die brug na sy spesiale kamer, met Krijger agterna.
    Krog neem ’n appel uit die bak voor hom, byt dit en dink: “Wel, die seuntjie wat ek vir jare opgepas het, is nou man. En boonop weet hy reeds van dinge wat ek nog net vermoed het.”
    Die Sekretaris staan nadenkend op, hoor nie dit wat die burgemeester van Kasteeldorp vir hom sê nie en haas hom na sy kamer. Die res van die groep staan ietwat verdwaas rond, behalwe Kaptein Barac, wat met ’n hernuwe vasberadenheid na die soldatekwartiere uitstap.
    In die gang buite Sorm se spesiale kamer, vra Krijger:
    “Uh ... Sorm, tien persent is baie, is dit wys om iemand wat onder verdenking is, soveel geld te gee? Dit kan ’n oneindige koste veroorsaak.”
    “Ek wil jou vraag met ’n ander vraag beantwoord, Krijger,” antwoord die jong koning, “dit is tien persent van die maandelikse toename. As ’n padda ’n skamele agt voet van ’n poel water af is waar hy kos en skuiling moet vind, en sy eerste sprong is ’n hele vier voet ver maar daarna is elke sprong die helfte van die vorige, hoe lank sal dit hom neem om die agt voet af te lê?”
    Terwyl Krijger al hoe dieper oor dié raaisel frons, verdwyn Sorm in sy kamer in. Hy het nodig om net ’n bietjie alleen te wees voordat die volgende stap gedoen moet word. Elke oomblik van dié politieke speletjie maak hom ongelooflik moeg.

    Toe hy in sy kamer aankom, gooi Die Sekretaris sy papiere op ’n tafel neer en gaan sit op sy bed om te dink. Sy planne en alliansies was alles in plek; hy was bykans daarvan verseker dat hy die voog-regeerder vir die klein kloosterprinsie sou wees. En toe bederf die hardkoppige ou koning alles deur teen wil en dank aan die laaste draadjie van sy lewe vas te klou totdat sy seun mondig word. Maar nou gaan hy, Rabian, skatryk word. Hy gaan ’n hoop goud bymekaarmaak wat selfs die dom Kaptein se Graafskap na ’n grap sal laat lyk!
    Die Sekretaris is effens verskeurd tussen dit wat die koning vra en dit wat sy ware Meester verwag. Maar die jarelange ondermyning van die skatkamer en invordering van belastings het tog niks bereik nie. Ja, hy sal hierdie kans aangryp en net aanhou om sy ware Meester te paai deur hom van inligting te voorsien. En waardevolle inligting is dit verseker; die klein koninkie is dwaas om al sy planne met hulle almal te bespreek. Hy wonder tog of iemand sal agterkom as hy “namens die koning” die belastingkoers net so ’n bietjie in sommige gebiede opstoot. Sy gedagtegang word deur ’n beleefde klop aan sy deur onderbreek.
    “JA?” vra hy die helper wat by sy deur staan.
    “U edelagbare,” antwoord die helper hom effens verskrik,” die koning ontbied u na die ou slaapsaal, waar hy sy nuwe troonsaal inrig. Bring asseblief u eie seëlring ook saam.”
    Die Sekretaris haas hom vererg daarheen en vind Sorm in die geselskap van Krijger en Khula.
    “A, meneer Die Sekretaris,” sê Sorm, “die briewe wat u nodig het, is gereed.”
    “Briewe?” vra die aspirant voog-regeerder verward.
    “Ja, briewe aan elke enkele dorpie en gebied, wat u gesag bevestig om belastinginvordering op te knap en wat aandui dat die belastingkoers onveranderd bly. U seel word langs myne vereis en dan sal die koninklike koeriers dit begin aflewer.”
    Die Sekretaris gaap hom ongelowig aan.
    “Ja,” gaan Sorm vriendelik voort, “ek verwag baie papierwerk en ek verwag dit flink. Khula het my gehelp en nou gaan hy u help wanneer hy nie met die verbetering van landbou en herwinning van oorbenutte landerye dwarsdeur die land besig is nie. Khula moet u besondere kundigheid by u leer, en sal dus u skaduwee wees. Onder andere wil ek die regstelsel van die beroemde Keiser Justinianus hier invoer en oor ʼn maand vir al die lede van my Raad ’n opsomming van die beginsels gee.”
    Die koning wys na die stapel perkamentrolle wat Khula vashou en sê: “Ek is seker u gaan nog baie dankbaar wees vir sy vlytige hulp met u gewigtige werk!”
    Die Sekretaris gee ’n moedelose kreun en Sorm en Khula glimlag goedig vir hom.
    *****
    Storm droom weer een van sy ergste nagmerries: Hierdie keer word die gedrogte met rooi oë vol haat, wat hom en sy familie in ’n hut vaskeer, aangevoer deur hekse met verwronge gesigte. Hulle swiep deur die lug op besems en skreeu met skril stemme, al hoe harder en harder. Die lig is rokerig en die son gaan onder in vlekke van rooi wat van die horison af opwaarts lek. Dit lyk asof ’n reuse bloederige hand aan die hemel afgevee is. Storm wil beweeg en sy sussie en boetie help, maar hy word deur die aaklige geskreeu verlam. Dit maak hom kwaad, dié gevoel van magteloosheid. Hy weet daar is iets wat hy moet doen om die toordery stop te sit en te beweeg, maar hy kan dit nie onthou nie. Sy kop is dof van ’n hoofpyn. Hy wil sy bene en arms beweeg maar kan nie. Hy skrik vervaard wakker en kyk na die sweet wat op sy kaal borskas pêrel en afloop op die laken. Hy tel die glas langs sy bed op en stik met kurkdroë keel aan ’n sluk water. Daarna staan hy maar weer eens uitgeput op om te stort en skool toe te gaan. Net betyds onthou hy dat hy vir die terapeut ’n nota in die boek langs sy bed moet maak, voordat sy droom terug in sy onderbewussyn waar dit vandaan kom, wegsmelt.
    *****
    Die herfs word, soos die digter dit eens beskryf het, ryp in goue akkerblare wat afval om weer kompos te word. Daarna sneeu die winter die landskap spierwit en yskoud van Edburg in die Noord-Weste tot by die grenstoring Suid van Ametus.
    Week na week en maand na maand werk Sorm daaraan om, vergesel van sy lyfwagte, self oral inspeksie te hou van die verbetering van boerderymetodes en die opgaar van voedsel vir die ergste deel van die winter. Hy inspekteer ook onverwags die inwin van belastings in die vorm van geld, kos en goedere. Hy vergesel argitekte en bouers na die opknapping van graansuiers, torings, kerke en geboue. Self daag hy op by die klipgroewe waar die ekstra soldate van tyd tot tyd uithelp. Hy gaan kyk veral gereeld hoe vorder die maak van beter wapens en wapenrusting in die opgeknapte wapensmede. Hy besoek self die armes, van die verafgeleë gehuggies tot by die krotbuurt van Kasteeldorp. Saam met die gewone mense beraam by planne om klein dingetjies te verbeter – afvoerslote word oor gegrawe en met klip versterk, en materiaal word uit sy eie sak gekoop om beskadigde huise vir die winter te probeer opknap.
    Mettertyd word die baie jong koning op sy pragtige pikswart hings Icarus ’n bekende gesig oral in die koninkryk. Tot Die Sekretaris se frustrasie verander Sorm natuurlik aanhoudend sy reisplanne en is hy kort-kort waar hy nie moet wees nie. So ontwyk hy en sy gevolg elke lokval op die pad.
    Niemand behalwe Baron Sean en Baron McKenzie reageer egter op Sorm se oproep om die komitee van Uther te laat herlewe nie. Die spanning in die land begin geheimsinnig oplaai.
    Die uitgeputte skatkamer van die ou koninkryk sou die las van Sorm se planne nie kon dra nie, maar dit gaan besonder goed met die geldsake. Die Sekretaris verrig wondere om die welvaart weer soos van ouds in die skatkamer te laat invloei. Die groot toename in beskikbare soldate en perde maak die handhawing van orde en goeie burgerskap heelwat makliker. Boonop kry Kaptein Barac dele van die problematiese Midlands onder beheer en vorder huidige en agterstallige belasting in.
    Daar is opstandigheid, veral onder die rykste handelaars wat blykbaar voorheen daarin geslaag het om belasting te ontduik maar die soldate, voortdurend gebrei en beter opgelei in die kasteel, dwing respek af dwarsdeur die land. Die herstelde handel met Midlands hou boonop vir almal voordeel in.
    Tot groot ontsteltenis van sommiges gee Sorm later selfs opdrag dat die koninglike vloot in Edburg ’n paar vissers aan boord moet neem om vis te vang en te droog om sodoende behoorlike voorrade vir die honger wintermaande op te bou. So tussenin al dié besigheid, glip Sorm ook wetgewing deur wat gaan oor burgerregte en vroueregte. Dit trek min aandag.

    Dit blyk gou dat daar te min offisiere is toe die soldate uit die Biskop se diens, waar hulle aan plaaslike offisiere gerapporteer het, terugkom huis toe. Boonop is Kaptein Barac permanent in Midlands besig, en hy het sy getroue luitenant saamgeneem. Sorm laat reël dus ’n kompetisie vir alle soldate, met uitkloprondtes om die beste swaardvegter, ruiter en boogskutter te bepaal.
    Krijger wen, soos verwag, die swaardgevegte. Sorm bevorder gevolglik, met ’n sug van verligting, vir Krijger tot luitenant. Hy is vir die lyfwag, die opleiding en voortdurende toetsing van soldate in simulasies van oorlog, en vir die vervaardiging van nuwe wapentuig, verantwoordelik.
    Sorm bevorder ook die tweede beste swaardvegter, wat gelukkig Baron McKenzie se seun Noël is, tot luitenant. Hy plaas Noël in beheer van die koördinering van patrollies en van die seremoniële wag.
    Die beste boogskutter bevorder hy tot sersant en plaas hom in beheer van die spesiale projek om beter boë en pyle te maak en om boogskutters op te lei.
    Die beste perderuiter bevorder hy tot sersant en stuur hom na die koninklike stalle om perde uit te soek en perderuiters op te lei.
    Krijger en Sorm het teen hierdie tyd reeds ’n baie spesiale groepie soldate en volgelinge geïdentifiseer en opgelei om die koning se lyfwag uit te brei: Die gewilde Noël, wat nou luitenant is, maar steeds deel is van die spesiale eenheid; Amorn, ’n baie betroubare jong soldaat waaroor die diensmeisies gaande is; Peter en Smith, twee fris boerklonge uit die sneeuberge aan die Oostekant; Mark, ’n neef van Khula van Sean, ’n lojalis met besondere kontakte in die adelstand; en laastens Poilock, ’n ernstige klooster-soldaat.
    Sorm het vir Poilock aan Krog opgedra om as eerste priester vir die kasteel se eie katedraal op te lei. Hy het ook die hele groep, insluitende homself, aan Krijger en Noël opgedra vir die instel van ’n oefenprogram wat veral fokus op swaardgevegte. Daar is dus niemand wat hulle as swaardvegters kan klop nie! Sorm kry natuurlik swaar om by te bly met die soldate, al tel sy linkshandigheid in sy guns, maar hy wil in staat wees om homself te verdedig en te bewys wanneer die onafwendbare oorlog kom...

    Teen laat Winter is daar gerugte dat die moegoes weens hongersnood in die verre Noorde nou onkeerbaar aan die Oostekant van die Sneeuberge Suidwaarts na die heilige stad Chalcedonum stroom. Daar is gerugte dat die Biskop en die Rooi Prins selfs van planne om in die heilige stad te gaan bly, moes afstand doen omdat die moegoes onbeheerbaar word.
    Twee aanvalle word deur Sorm se grens-torings afgeweer: ’n Stormloop van moegoes word in ’n smal poort in die Sneeuberge gestuit, en die Suidelike grenstoring in Midlands word deur moegoes en ’n afdeling vermeende muiters uit Baron Duncan se gebied beleër, totdat Kaptein Barac hulle verdryf.
    Sorm maak ’n opname van sy opgeknapte weermag en som dit as volg op:
    • Tweehonderd en vyftig perderuiters, insluitende sy lyfwag, gewapen met swaarde en nuwe kruisboë. Twintig van hulle doen diens in Edburg en dertig is by Kaptein Barac. Die res neem vanuit die kasteel ’n patrolliestelsel in skofte waar.
    • Ongeveer agthonderd elite swaardvegters, nou meesal toegerus met goeie wapens en kettingwapenrusting. Twintig doen diens in Edburg by die nuutgestigte Universiteit, tweehonderd en dertig doen diens in skofte by die grens-torings, en tweehonderd en vyftig is by Kaptein Barac.. Die res is in en rondom die kasteel gestasioneer.
    • Ongeveer vyfhonderd elite langboog-skutters, lig gepantser, waarvan eenhonderd tussen die ander eenhede versprei is en die res is in en rondom die kasteel gestasioneer.
    • Die twintig piekeniers, wat sedertdien in ’n spesiale eenheid in beheer van drie nuutontwerpte katapults verander is.
    • Behoorlike ondersteunende eenhede soos helpers, kokke, wa-drywers en wapendraers.
    • Een ommuurde kasteel en sewe grens-torings, op enkele uitsonderings na besonder goed opgeknap en versterk. Die kasteel met sy eie waterput en stalle is feitlik ondeurdringbaar. Sorm en die argitek het met Khula se hulp die presiese omvang van sy verbeterings probeer geheimhou.
    • Een redelik goeie spioenasienetwerk.
    Die lojale deel van die koninkryk se bevolking kan tydens ’n oorlog opgeroep word, wat nog ongeveer tienduisend lig gewapende krygers en helpers kan bybring.
    Daar is nog baie ruimte vir verbetering in die landbou maar die koninkryk het redelik goed deur die winter gekom met min epidemies en feitlik geen hongersnood. Die beskikbare manskappe is in ’n redelike goeie toestand.
    Toe die laaste swaar sneeu van die bitter koue winter begin smelt, ontvang Sorm sekere verslae waarvoor hy gewag het, van sy spioene af. Hy stuur dadelik sy familie saam met ʼn konvooi en eenhonderd perderuiters, met ʼn spesiale opdrag, na die half-voltooide ommuurde huis op Edburg. Hy laat weet Kaptein Barac om homself in te grawe vir verdediging, en tref self die laaste voorbereidings in en om die kasteel.
    Hier kom moeilikheid!

      Current date/time is Fri 17 May 2024, 10:03 am