tussen platgetrapte grensdrade staan gousblomme
gesiggies na die hemel gelig, jou spore oral oor my
voetpad gerig
eien ek tussen rommel en as, kleinode wat jou so
volmaak in my skede kon maak pas;
betrokke wolke teen die oosterkim skilder jou
silhoeët teen oopgevlekte skouerblaaie van my
haaimat - waar ribbebene en dolosse kletter in die
talisman se hand en jou naam spel toe dit tussen
slang-lyf-kronkels in rooisand land;
vind ek ou naamlekkers in 'n bruin kardoesie
met jou voos gesuigde laaste woorde daarop,
toe bliksems riel tussen telefoondrade
en plofdruppels val op voorbereide aarde
ruik ek jou lyf in dorstige grond,
versteek ek ons vergeelde kiekie in my linnebroeksak
voor ek koers kies in die rigting van reën.
© 2011 Almarie Truter