lug-spoke dans daar op die dak
dans-dans op elke stukkie sink en teer
gaap-gaap kraaie, trap-trap miere in die son
ek sien
die honde hyg behoorlik en
ek hoor
sonbesies skrou irriterend en
ek ruik
stof raak droog en warrel oral rond
ek weet
ʼn El-Nino somer trap Suid-Afrika
ek vlug
na water en koelte en lugversorging
ek smag
na vergifnis uit die wolke
ek wens
die herfs kom red ons
ek sug
as ek dink
wat laas winter kon gewees het
soveel goeie dinge kon gedoen word
voor die son ons weer so
kaal
ontbloot het
maar
lug-spoke dans daar op die dak
dans-dans op elke stukkie sink en teer
gaap-gaap kraaie, trap-trap miere in die son
- verbeel my ek sien al die vlamme van verderf wat lek -
dis onbedaarlik hittig
hier in die somerson
© Torm 2010