kyk dan hierdie twee voete
die liggaam het toe gesterf
voordat die sole deurgeslyt is van al die dra
kyk dan hierdie bene
spatare was toe meer blaf as byt
soos kierietjies later maar tot die einde was hul daar
kyk dan hierdie bekken
so onbeholpe en kranklik dog
die grootste prestasie van sy lewe het daar begin
kyk dan hierdie maag
oopgesny peul die vet vormloos
enigste monument van dinge wat lekker was aan die begin
kyk dan hierdie hart
lankal oopgesny van smart
tog het dit aanhou klop toe die res opgegee het
kyk dan hierdie brein
gedissekteer van te veel dink
eers pienk dan grys is al wat ons nou het van verbete verset
dalk moes die mens meer met sy hart gedink het
en die brein meer die lyf gevolg het in plaas van belet
maar hier op hierdie koue tafel is dit te laat
vir pret
© Torm 2012