'n maer wind swiep oor krioelende snelweë,
die maan hang helder oordag
(soos 'n mosdoppie)
oor 'n pas ontwaakte stad;
asems sweef dun deur 'n herfslandskap
slegs hier en daar 'n skoorsteen aar
van voorstedelike smag na warm knoestigheid
midde baksteen en beton
ek word die onbetrokke oog,
waarnemer van stedelike stik en statigheid;
maar in my kop -
immer bewegende branders
tussen engelvere en 'n onaangeraakte hemel
met 'n Kaapse oortjiesuil
wat tuis frommelveer sit en wag
op my roepstem
in die nag.
© 2012 Almarie Truter