vir jou het ek nooit gevra nie
ek het jou van nêrens af gebid nie
nie eens my drome het ooit jou dna gedra nie
tog het jy my lewe ingestap
en geweet watter venster in my huis
vang die oggendson
jy het geweet van die maan wat sawens
neffens my bed opkom
jou naam het ek nooit vantevore gehoor nie
jou woorde was aan my onbekend
ek het nooit geweet van jou stem wat bekoor nie
tog het jy geweet watter lied om in nanag ure
in my lyf te sing
jy het geweet van die Maartlelie
wat jy saam met jou, na my skuilte moes bring
jou skaduwee het nooit in my dorp se strate
tussen palms gebeef nie
jou spore het nooit vantevore aan my branderlose
baai se duine gekleef nie
tog het jy geweet om my altyd en soms
by die hoogwatermerk, tussen spoegsels te vind
jy geweet van my en die see
en die maan en die wind
vir jou het ek nooit gevra nie
ek het jou van nêrens af gebid nie
nie eens my drome het ooit jou dna gedra nie
nou is jy nie meer hier nie
en ek weet nie hoe om op te hou vra nie.
© 2012 Almarie Truter