in my sogenaamde ontdekkingsreis en selfondersoek
het ek hand aan hand gestap met my spieëlbeeld
op die rand van my stilswye se afgrond
skaakmat het my telkemale 'n kishou gemoker
as realiteit en verwagting, kop aan kop
en rammetjie uitnek, kom ruk en pluk aan my,
al was dit net vir ’n wyle
op die kalkwit grenslyne
van my lewe se owerspel
'goed befok' was meestal my enigste uitweg
as ek moes wys dat ek niks en niemand vrees,
as ek moes bliksem vir wie ookal sou waag
om my te keer - maar steeds moes poog
dat niemand tog sal sien
dat my binneste rou aan sy eie swart en smart
in laatnag stilte dans oë
soekend , vraend en vermakerig
as ek sleepvoet in kerkhof skadu’s,
as ek verlang
na net nog ‘n uur van stilte
(in my eie gevangenis geboei)
steeds balanseer my lewe
as die natuur sy donders en bliksems reën
en my nagte in wit verlig -
dans my lewe in 'n rolprent teen ’n vêr horison
waar beloftes sonstraal op vernuwing ,
bloeiend om my nog ‘n kans te bied
ek sal myself vergewe
ek sal oorgee
en uitreik na die hand aan die ander kant,
om my hede se bitter suur
na 'n bodemlose graf te stuur.
BennyB
© 03/10/2011 Barend Booysen