FreeStyle

Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

2 posters

    Vroeg ryp

    anderkant
    anderkant


    Location | Ligging : Port Elizabeth
    Posts | Bydraes : 342
    Points | Punte : 382
    Join date | Datum aangesluit : 2011-09-04
    Age | Ouderdom : 47

    Vroeg ryp Empty Vroeg ryp

    Post by anderkant Tue 11 Oct 2011, 9:38 pm

    Sy was Tannie Antie Gina…

    Verduidelik jy nou maar vir 'n klein afrikaanse laaitie die verskil tussen Tannie en Antie; onthou, ons praat hier van die 1980's toe ek self hier en daar moes probeer tolk speel met my mindere kennis om my ma uit die taal-slaggate van die tyd te probeer help. My pa het gedink dis so snaaks hy "hettie" eers probeer om die verskil uit te wys nie, net gelag.

    Ek is met maniere groot-gefoeter, as jy dan nou uit die skool was dan was jy Oom of Tannie, en mamma se Antie-Gina (by aanname toe dus haar volle naam) word toe Tannie
    Antie-Gina. (Laat my ook die keer onthou toe ek gevra het wat maak die katte in die stad?; sien, ek spreek 'n pleknaambord wat "CITY/STAD" aandui toe uit as kietie stad en wonder oombliklik wat soek die katte in die stad).

    Nou ja, terug by die eintlike storie, gaan kuier ons by Tannie Antie Gina (Ouma het haar Georgie genoem). Later sou ek ook weer leer Gina is kort vir Orgina wat weer heel ander "taalvoorbarighede" na vore gebring het. (Orgina leen hom tog aan soveel vrye-interpretasies.)

    Tannie Antie Gina was ryk, haar man het mos vir die plek gewerk wat geld maak (die SA Munt) en hulle het geweet wat om met al daai geld te maak – so van 'n spoggerige huis met al die trimmings het ek nog nooit weer beleef nie. Met die middag-kuiertjie agter die blad oortuig ons (ek en Martin en Debbie) haar toe dat dit 'n skending van ons kinder-regte sou wees as ons nie die res van die vakansie by haar kon vertoef nie. Sy stem saam en
    oortuig mamma en pappa. So, na vele doodsdreigemente en ander dergelike stellings is mamma en pappa daar weg.

    Daai aand (en ek sweer ek het dit nog nooit ooit weer gesien nie) toe sien ek hoe lyk ryk mense se wors. Met wors-rolletjies op die spyskaart en kinder-hande wat mos 'n "boerie" kan "handle" leer ek toe met vurk en "steak-mes" eet – hoe dan nou anders as die wors so dik is soos jou voorarm en jy nie jou mond naastenby groot genoeg kan ooprek nie. Ek het daai rolletjie gesit en kerf soos 'n stukkie wilds-biltong en kwartweg was ek vol. Versadig. Tannie Antie Gina was oortuig ons was vol lekkergoed, want 'n kind met 'n
    vol maag is dan kwansuis 'n siek kind.

    Etenstyd ook dan nou agter die blad word ons haastig gebad in so 'n grooooot ronde bad en maak ons reg vir die volgende bederf: MNET! Jislaaik, daai aand het my ogies wyd
    oopgegaan. Blue Lagoon en Brooke Shields en kinders wat te jonk is om te kyk en die hele boksemdaais – verbeel jou dit. Tannie Antie Gina was besig met "kantoor-werk", net elke dan en wan geroep is ons dan nog nie moeg nie, en ek en Martin wat dood ernstig laat terughoor: amper tannie.

    Snaaks dat ek nou na al hierdie tyd daaraan dink en besef, daardie aand het ek besef terwyl ek "grootmens-goed" kyk, dat daar waar ek vandaan kom, iemand lankal reeds besig was om my groot te maak…

    Tannie Gina bly vandag nog in Florida. (Wes-rand s'n natuurlik)
    AmmieMoon
    AmmieMoon


    Location | Ligging : Saldanhabaai
    Posts | Bydraes : 413
    Points | Punte : 689
    Join date | Datum aangesluit : 2011-08-28
    Age | Ouderdom : 25

    Vroeg ryp Empty Re: Vroeg ryp

    Post by AmmieMoon Tue 01 Nov 2011, 2:06 am

    In hierdie kostelike nostalgiese vertelling van jou het ek nou heerlik weggeraak ! Ag en daai ''katjies in die stad ''is te dierbaar!
    Dankie my vriend, vir 'n oomblik was ek weer in die '80 in Jeffreystraat in die Paarl en kon ek vir 'n wyle doekvoet in my eie kleintyd paadjies wandel en stilweg glimlag! Skryf vir ons nog sulke onthou-juweeltjies toe ! Like a Star @ heaven

      Similar topics

      -

      Current date/time is Mon 20 May 2024, 11:05 am