Jou sadistiese genot om lemme in my rug
te draai dors steeds jou vlees,
jou gryns wyl ek roggel en sluk -
poog om ter wille van vrede
voor jou hoon die knie te swik.
Jy lek steeds die warm van my binnehart
wat drup oor jou witklem kneukels
as jy my horte na asem gadeslaan.
Die ongetemde Satan in jou oë dans nog pal
'n hekse-riel
as jou vlymskerp woorde my verniel.
Smeer gerus my lyfgeur
teen jou vensterraam en kosyn,
vergruis gerus die borsbeen
wat my hart beskut.
My plakkershut staan skuins geleun
teen stormwind
my kongavuur brand ongeag
Jy het skynbaar vergeet -
dood is reeds oorwin !
© 2011 Almarie Truter