FreeStyle

Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

    Kraletjies en 'n koppie tee

    Torm
    Torm


    Location | Ligging : Donker Afrika
    Posts | Bydraes : 260
    Points | Punte : 465
    Join date | Datum aangesluit : 2011-09-16
    Age | Ouderdom : 67

    Kraletjies en 'n koppie tee Empty Kraletjies en 'n koppie tee

    Post by Torm Fri 21 Oct 2011, 11:25 pm


    Jelisma huiwer voordat sy die deurklokkie van die sierlike voorstedelike woning druk. Sy hou meer van werk met regte krale van hout en gesteentes. Sy verkies ook ingewikkelde patrone. Maar daar is iets aan die gang by die Plastiekkrale Vereniging van Gauteng. Hulle is opwindend en aktief. Die kerk en regering steun hulle. Almal wat iemand is, neem deel. Boonop word babawagters by die byeenkomste verskaf. So hier is sy vir vanaand se plaaslike byeenkoms. Sy lui maar die klokkie en Jorina, haar flambojante gasvrou, maak dadelik oop. Sy ontvang ʼn klapsoen wat na duur kakiebos ruik en word sommer aan die elmboog gestuur tot by die geelhout-tafel waar almal sit en werk. Haar baba verdwyn met die trappe op na die baba-kamer.

    Ongelukkig word die byeenkoms vroeg versuur deur ʼn ongemaklikheid. Mara sou die babas oppas en het in voorbereiding daarvoor haar eie plastiekkrale klaar gepoleer. Sy’t ook nie die patroon gevolg wat die Vereniging versoek het nie. Jorina en die ander giggel maar kyk haar met harde oë aan. “Jy weet ons doen dit nie so nie, Mara,” verklaar ʼn vrou wat blink van die platinum juwele terwyl sy haar uit die hoogte aankyk. Toe storm Mara uit, kraletjies in die hand.

    “Wie gaan nou na die babas kyk?” wonder Jelisma. Maar almal stel haar gerus – iemand se tienerdogter is daar en die babakamer is met ‘baby-call” toegerus. Jelisma hou haar oor teen die stelsel se ontvang-apparaat op die tafel, glimlag tevrede en vertel dat sy kan hoor hoe die ou kleintjies voor die reuse televisiestel koer. Die vrouens word ook gepaai deur die opwindende aanbieding van Jerome, die gasspreker. Jorina fluister agteraf vir Jelisma: “Hy’s so skeef hy moet nog net omval maar ons verdra hom, want hy’s die Pretoria-voorsitter en hy is ʼn beoordelaar.” Jelisma knip net haar oë verskrik en sê niks nie.

    Dan verdryf die aantreklike versnaperings alle verdere vrae. Daar is die heerlikste soetgoed en spesiale tee wat ten duurste ingevoer is. Tot haar verbasing moet Jelisma haar krale, netjies ingeryg volgens die patroon, ruil met Jorina. Dis is die gebruik dat hulle mekaar se krale poets totdat dit blink. Met genoegdoening smul die vrouens by hulle geelhout-tafel en vryf mekaar se plastiekkrale blink.

    Skielik staan Jesebel op om badkamer toe te gaan. Jorina keer haar haastig en sê: “Moenie die gastetoilet hier onder gebruik nie – om die een of ander rede is dit vol stront. Tonne daarvan. Gebruik die badkamer daarbo by die babas.”

    Alhoewel sy eintlik net wil wegkom om te rook (dis mos nie meer mode nie) gaan Jesebel maar boontoe. Ongelukkig is daar toe rookverklikkers in die badkamer, so sy staan maar in die gang. Terwyl sy rook, verstom sy haar aan al die sertifikate van die Plastiekkrale Vereniging van Gauteng. Hulle hang die hele gang vol. Duidelik volg Jorina die patroon en is haar krale volgens hulle die blinkste. Smaak het haar gasvrou nie – die rou dennehout rame om die sertifikate is lelik. Dan word Jesebel vies vir die sigaret en sit hom in die asbakkie op die rak onder die sertifikate.

    Jelisma oorkom haar skaamte en vra Jorina om hulp oor haar skoen wat op die trappe buite gebreek het. Haar gasvrou nooi haar gul om in haar skoenekas te gaan soek voordat sy huis toe gaan. Daar is snaaks genoeg baie onpaar skoene. “As die skoen jou pas, trek dit aan,” nooi sy.

    Toe Jesebel weer onder kom om verder te poets, gaan die krag af. ʼn Gesoute gasvrou is egter altyd voorbereid, en Jorina haal die lanterns en kerse uit. Nou blink die krale nog mooier in die lantern-lig. Wie’t nou vir Eskom nodig? Jelisma verbeel haar die tee is bloederig, maar sy drink maar verder in die bedrieglike lig. Sy’t juis nie haar beste bril op nie. Die honde begin buite histeries blaf, maar die vrouens konsentreer op hulle lappies en op die krale. Daar is ook nog koeksusters oor wat hul aandag verg. Die stroop drup al op die platinum-vrou se boesem, maar sy prop nog meer in haar vreeslike groot mond. Sulke duur tande moet darem vir iets gebruik word, troos sy haarself.

    Mara staan buite en bekommer haar oor die babas. Dan sien sy rook uit die boonste vensters borrel. Jesebel se sigaret was nie dood nie en het ʼn sertifikaat aan die brand gesteek. Die tienerdogter is deur die rook oorval omdat sy toe-oë met oorfone na haar i-pod luister. Die babas huil maar niemand hoor hulle nie – die “baby-call” werk nie met kerslig nie...

    Mara lui benoud die deurklokkie. Die deurklokkie werk nie. Sy klop aan die deur. Die deur bly gesluit. Die honde blaf so hard dat niemand haar hoor nie. Sy begin magteloos huil.

    By die poets-tafel luister Jelisma net met ʼn halwe oor. Haar gemoed is beswaard omdat sy ʼn stukkie vinger in haar tee gevind het. Die verleentheid! Hoekom moet sulke dinge altyd met haar gebeur? Nou moet sy maak asof sy teedrink, sonder dat daar dalk regtig ʼn druppel oor haar lippe kom. Sy verbeel haar wel dat ʼn ander vrou dieselfde doen omdat daar iets in haar tee dryf wat soos ʼn oog lyk. Maar nou ja, Jelisma kan nie so mooi sien nie en die lig word al hoe dowwer.

    Met intense konsentrasie poets die vrouens mekaar se krale. Hulle ignoreer die honde. Hulle skuif almal taktvol hul koppies tee eenkant toe. Hulle hoor nie hoe Mara huil en skreeu nie. In die halfskemer vryf hulle en hulle vryf, terwyl die babas doodbrand bokant hulle. Dit is al amper donker. Die nuwe krale blink fenomenaal in die primitiewe lig.

    Die pragtige sertifikate vir die blinkste plastiekkrale is lankal net as, maar hulle besef dit nie. Hulle vryf net.

    @ Torm 2011
    Hierdie verhaal is ʼn woeste fantasie en enige direkte of indirekte verwysing na werklike gebeure of mense daarin is ʼn betreurenswaardige ongeluk. Die skrywer is wel bewus daarvan dat die eindelose gevryf van plastiekkrale sinneloos is en vra om verskoning vir die gebruik van ʼn vuil woord. Die woord het egter hier regtig niks met ʼn toilet te doen nie.

      Similar topics

      -

      Current date/time is Fri 17 May 2024, 1:55 pm