Jy kom van veraf aan.
Agter jou lê roeskop rûens
oopgerol oor voos geleefde aarde.
Met jou knapsak
(waarin jy 'n waterskilpad
saamdra na die volgende dam),
is jou tred gesnaar met sekerheid -
die reuk van maanhaar konings kleef nog
aan jou lende.
Ek eien jou tussen al die ander.
Sien die afsaksels van oorlog in jou oë,
die litteken langs jou mond.
Jou hande (die van 'n vakman)
grof geskaaf aan geelhout grein,
vuiste geklem met kneukels waarin
gletsers kraak -
jy kyk nie een maal om nie
nie een maal nie.
Jou reis was moeisaam,
afstand se rooi flets teen jou rug
maar jy het nooit moed verloor nie.
Jy is immers hoop.
Hoop wat eeue gelede (teen die hellings van Skotland)
deur stamvaders in jou beendere geënt is.
Jy groei van kabouter tot reus
teen 'n dynserige kim
en my oë brand kaggelvure in my kop
maar ek kyk nie weg nie.
Dit is gevestig op jou,
op jou.
© 2012 Almarie Truter