dag het leeggeloop en lou lig kleef traag
aan randstene voor haar huis
die oseaan haal rustig asem waar dit veraf
teen platgetrapte duine suis
haar voete ken die roete na windstil skuilings
waar die baai se arm krom
die holtes waar ook meeue skrop
na 'n dag vol veertien-uur-son
sy nestel teen skemer se kromgetrekte rug
met ou seer in haar hand
voel 'n roering in haar binneste (raar en nuut)
wat suutjies met haar praat
die aandwind skuifel-skuur sy slentergang
woel haar vuisvoos hart na bo
in die glans van fosfor branders
begin sy weer in liefde glo.
© 2012 Almarie Truter