Die stad donder teen plate van grys beton
en iewers kriewel 'n kind in sy eie nageboorte.
Die grond gaap swart gate en sprinkane bid
sonder ophou voor grassade wat dor
in Afrika son.
Die mens bring groen offers vir klater,
vir vlerke wat soos 'n muilband keep
in gewitte vlees.
Arm is die vrygekoopte gees
wat gesigte sien in drome.
Teen 'n veraf heuwel
(tussen beendere van afgestorwenes)
skyn 'n kromgetrekte kruis,
waar asyn erodeer tussen murg en been.
'n Moeder ween.
Sy kon nooit kies nie,
nooit haar eie hart teen 'n hout vasspyker nie.
Die hemel skeur in twee
en iewers brand 'n wildevy tot as
ter kastyding van 'n goddelose volk,
word sonde 'n brandoffer vir 'n uitgediende aarde.
Steeds donder 'n stad teen grys plate van beton
en iewers kniel 'n ou man
voor vuisvoos knetters van 'n Paasvlam.
© 2012 Almarie Truter