half vyf in die môre en dag lê dun gespoel
op 'n skewe strand
die wind waai maer en uitgeteer
en poog vir oulaas om verskuilde gedagtes
uit soutbos te weer
palms buig halsstarrig teen laaste reste
van 'n storm deurweekte nag
wyl dagbreek die horison frummel tussen
wysvinger en duim, daar waar gister se trane
agter vlieswolke verdwyn
steeds woed dwarrels soos 'n koppige kind
teen armdruk reëls van 'n moerige wind
seegras gemat oor 'n klamme strand
breekskulp geknoop
in slierte van môre se mooiweer hoop
half vyf in die môre en selfs ek moet deur hierdie aanslag beur
tot by die deurgetrapte drumpel van jou deur.
© 2011 Almarie Truter