haar weeklaag beier teen koper
wyl pilasters kreun om koningkoepels
neffens die hemeltrans te hou -
haar dye rooi gespoor in diep verloor.
sy hoor nie die ritsels van priesters en profete,
van tallisman en wyses, die kraak van perkament -
veg net stil verbete teen die kil besetene
wat haar onryp vrug verkrag.
die koning staar verdwaas,
onwillig om homself te haas na die onverklaarbare
wat 'n Magdalena-lyf aan flarde skeur -
sy spartel bang
aan 'n naelstring bly haar heer se voornaam hang.
'n bloedrivier se water word weer soet
en manna stort vanuit die wolke neer
biesies kraak,'n slaaf se kind word opgeraap -
niemand sien die grysdood in haar lende raak.
toe sy oplaas haar bokleed skeur
en ophou om teen roof te beur
kon haar vuisvoos hart die brose offer los -
verskyn daar ook vir haar
'n kromhoringram in 'n witvlam bos.
© 2011 Almarie Truter