FreeStyle

Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

    BERUSTING

    avatar
    Maggie


    Location | Ligging : MIDRAND
    Posts | Bydraes : 22
    Points | Punte : 60
    Join date | Datum aangesluit : 2011-09-17
    Age | Ouderdom : 62

    BERUSTING Empty BERUSTING

    Post by Maggie Mon 19 Sep 2011, 1:30 am

    BERUSTING

    Die wind speel soos ‘n kind met die wit branders wat oor die oseaan aangerol kom. My tone voel die sagte wit sand en die water wat oor my voete spoel is koel en verfrissend. Ek is nie bewus van enige mense om my nie en begin stap in die rigting na waar die son besig is om onder te gaan. Die strand is oop en vry en ek is lankal nie meer bewus van die tyd nie. Die golwe kom en gaan en kom en gaan sonder ophou. Die sterretjies weerkaats in die nat sand en laat dit soos ‘n sprokie lyk.

    Die see begin nou onrustig raak en die seewind blaas hard in my gesig. Daar is geen einde aan die golwe nie. Die branders slaan hard en aanhoudend totdat klip en skulp verkrummel. Tot in die middernag hou dit aan. Ek gaan sit op ‘n klipbank en besluit om te wag tot die son opkom. Dan sal ek die splinterskulpe optel en van voor af begin. Ek moet onthou hoe wonderlik die liefde is. Wat is die verskil tussen vriendskap en ware liefde? Ek het gedink ek ken die antwoord, maar nou is ek glad nie seker nie. Die laaste paar maande het so vinnig verbygesnel en ek voel meer verlore en soekend as ooit tevore.

    Die trane kan ek nie keer nie en later skrik ek vir die rou krete wat bars uit my keel. My lippe skeur, maar ek voel nie die seer nie. Dit is asof ek alle gevoel verloor het. Ek het lus en slaan my hande flenters teen die stuk ruwe rots. Ek is dankbaar daar is niemand naby wat my kan hoor nie.

    Jy het my weer laat boomklim soos toe ek ‘n kind was. Ons het hier ‘n Kaapse draai kom maak en jy het my geleer kreef uithaal. Ons het met ons fietse in die reën gery. Ons het gesweef oor die dansbaan en jy het my laat voel soos ‘n vlinderfeetjie wat ligvoets tip tip op wolke. Jy het my ‘n bokka gemaak en my geleer vlieg.

    Nou voel ek so moeg en groot en swaarmoedig. Loodvoete hou my op een plek en ek kan nie eers my kop oplig om die sterretjies te sien nie. Ek wil skaterlag, ek wil leef, ek wil na musiek luister wat my tone laat krul.

    Al die jare het ons rustig gekom en gegaan en ek was tevrede by jou. Nou het ons helder fontein van vreugde troebel geword. In jou oë was lig en duister. Ek is uit die slaap geruk deur ‘n harde geweerskoot. Toe ek by jou kom lë jy net daar op die kombuisvloer terwyl die lewe uit jou vloei. Op ‘n geel en wit notaboek het jy vir my die waarheid geskryf.

    Ek wou saam met jou oud word. Nou moet ek alleen die seisoene ingaan. Dit is baie vreemd, my beste vriend. Jy is weg. Ek onthou jou oë lewendig, ligblou en jou blonde kuif wat wip as jy stap. Ek sal nie in die winter kan slaap nie. Wie gaan nou die dak verf? Dit kan nie wees nie. Die aarde gee pad onder my. My tong is dik en swaar. Jy is aan my hart vasgewerk. Alles is weg. Ek moes jou begrawe en die hopie grond het dood leweloos na my gestaar.

    Ek herhaal die woorde in jou brief oor en oor:
    “Ek is gay. Diep binne my is ‘n vrou. Ek is jammer, ek kan net nie so aangaan nie. Jy is die beste, dankie vir alles”

    Nou sluit ek maar my oë en raak stil. Ek vergewe jou. Die liefde van die Here is sonder grense. Hy laat ons lewe. Hy sal die gekompliseerde orde herstel. Hy sal ons rein maak en stewig vashou. Hy sal my lei. Dankie Here dat u jare gelede reeds my hart vasgegryp het. Dat u my geleer het om nie op prinse te vertrou nie en in myself vrede te vind.


      Current date/time is Sat 27 Apr 2024, 10:36 pm